Vier saam voor, met Schwartzel wat nog ʼn buitekans het

Charl Schwartzel hou sy hou uit die sandkuil angstig dop (Foto: Chris Carlson)

Vrydag se tweede ronde van die Meesterstoernooi in Augusta is minder deur die wind ontwrig as op die eerste dag toe die nat baan die spelers ook gekortwiek het, en met ʼn hele paar tellings onder syfer is daar nou vier gesamentlike voorlopers.

Die oornagvoorloper Charley Hoffman se telling van drie-oor in die tweede ronde was die swakste van die voorste 16 spelers na die tweede ronde, maar tog goed genoeg om hom te laat vasbyt aan ʼn gesamentlike voorsprong op 140 – vier onder baansyfer.

Sergio Garcia (drie-onder in die tweede ronde), Thomas Pieters (vier onder) en Rickie Fowler (vyf-onder) is die manne wat Saterdag as gesamentlike voorlopers sal afslaan.

Maar daar is nog 14 spelers wat binne ses houe van hulle is op ʼn baan wat steeds moeilik speel – en met nog twee rondes oor, kan enige van hierdie groep wat ondermeer vir Jordan Spieth, Justin Rose, Phil Mickelson, Matt Kuchar, Rory McIlroy en Suid-Afrika se Charl Schwartzel insluit, nog met die louere wegstap.

♦  Dit was in die geheel ʼn veel beter dag vir die Suid-Afrikaners. Schwartzel het  syfer gespeel en is die beste van sy landgenote op ʼn twee-oor 146; Ernie Els het met ʼn brouhou op elk van die laaste twee putjies na 75 oor die tweede ronde en 147 drie-oor vir die toernooi, teruggesak en is nou sewe houe agter die voorlopers; Branden Grace het ʼn twee-oor by sy eerste ronde van ses-oor gevoeg en is op 150 nou uit die wenprentjie, en Louis Oosthuizen se veel beter 71 na sy nagmerrie-ronde van 77 plaas hom op 148 ook buite die wenprentjie.

Hierdie vier van Suid-Afrika het die afsnypunt op 150 oorleef, maar Trevor Immelman  se wankelrige 76 na sy 79 Donderdag het hom geen kans gegun om oor die laaste twee rondes te speel nie.

Om volledige tellings oor die twee rondes te kry, klik op http://www.masters.com/en_US/scores/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.