Vier van SA onder rekord-44 in Amerikaanse Ope

Ernie Els – twee brouhoue op laaste putjies bederf sy goeie ronde

Ricky Fowler het Donderdag slegs die derde speler geword wat in 117 toernooie ʼn telling van sewe houe onder syfer in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope kon aanteken – en hy was die enigste van die toptien spelers wat beter as syfer gespeel het.

Die 44 spelers wat minder as syfer 72 op die eerste dag gespeel het, is ook ʼn nuwe Ope-rekord wat behaal is op die Erin Hillsbaan in Wisconsin, wat veel makliker op die eerste dag gespeel het as wat verwag is.

Die vorige rekord van 39 spelers wat baansyfer in die eerste ronde kon klop is 27 jaar gelede in 1990 op Medinah in Illinois opgestel.

Daar was vier Suid-Afrikaners onder die 44 spelers wat minder as syfer gespeel het: Ernie Els en Brandon Stone, albei twee-onder met 70 houe, en Thomas Aiken en Charl Schwartzel (albei 71, een-onder).

Els het op elk van die laaste twee putjies ʼn brouhou gespeel. Was dit nie daarvoor nie, was hy onder die voorste sewe en nie in die gesamentlike 18de plek nie.

♦ Twee van die ander vier Suid-Afrikaners het almal redelik gevaar. Branden Grace en George Coetzee het albei syfer gespeel en is gesamentlik 45ste, maar Louis Oosthuizen het tussen die agste en 12de putjies drie houe laat val en een voëltjie gespeel. Hoewel hy verder bestendig was, plaas sy 74 plaas hom gesamentlik 82ste terwyl Oliver Bekker op 73 in die 102de plek is.

Bekker het na ʼn wisselvallige eerste ses putjies op die veertiende ʼn voëltjie behaal. Hy was toe gelyk aan syfer totdat hy op die 17de drie houe afgestaan het. Hy en Oosthuizen sal moet uithaal in die tweede ronde om die afsnypunt te haal.

♦ Rory McIllroy het ʼn liederlike 78 aangeteken en is sesde laaste, en die verdedigende kampioen, Dustin Johnson, het ʼn drie-oor 75 op sy telkaart ingevul. Jordan Spieth is op 71 nog goed geplaas om die voorstes skrik te maak.

Vir volledige tellings, klik op die skakel http://www.pgatour.com/leaderboard.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.