Vier van SA spook sake uit in PGA-toernooi

Ockie Strydom by die DP World-toernooi in Singapoer. (Foto: Roslan Rahman/AFP)

Slegs vier Suid-Afrikaners is onder die 156 spelers wat vandeesweek op die Oak Hill-baan buite New York na roem mik in die Amerikaanse PGA-toernooi.

Die viertal, Christiaan Bezuidenhout, Dean Burmester, Ockie Strydom en Thriston Lawrence, sal van Donderdag af probeer om hulle by die legendariese Gary Player aan te sluit wanneer die 105de PGA-kampioenskap in Rochester beslis word.

Player het die gesogte PGA-kroon in 1962 en 1972 gewen en is een van slegs vyf spelers wat al vier major-titels in hul loopbane gewen het.

Altesame tien Suid-Afrikaanse spelers het in verlede jaar se PGA-toernooi meegeding, maar die Suid-Afrikaanse geur in vanjaar se toernooi is nie so sterk nie weens onder meer die ontstaan van die nuwe LIV-reeks.

Drie van die land se topspelers, Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Branden Grace, is hul plekke onder die wêreld se top-100 kwyt weens hul deelname aan die omstrede Saoedi-Arabies gefinansierde reeks, wat nie kwalifiseer vir wêreldranglyspunte nie.

Alle spelers in die top-100 word ʼn plek in die PGA-veld gegee en altesame 99 van die beste honderd is vandeesweek op Oak Hill in aksie.

Die top-100-speler wat nie deel sal wees van die aksie nie, is Will Zalatoris, no. 9 op die wêreldranglys.

Zalatoris het verlede maand ʼn rugoperasie ondergaan en sal waarskynlik nie weer vanjaar op die gholfbaan te sien wees nie.

Bezuidenhout (77), Burmester (85) en Lawrence (96) is in die PGA-veld danksy hul ranglysposisies, terwyl Strydom (144) as die Sonskynreeks se verdienstelyswenner sy plek in die uitsoekveld verdien het.

Van die vier blyk Bezuidenhout en Burmester die beste op dreef te wees.

Bezuidenhout het die afgelope naweek 23ste in die Byron Nelson Classic geëindig, terwyl Burmester twee toptienplekke in sy laaste twee verskynings in die LIV-reeks behaal het.

Burmester het sedert einde Februarie meer as $3,5 miljoen (sowat R66 miljoen) in die LIV-reeks verdien en dit kan aanvaar word dat hy in die wolke is met sy besluit drie maande gelede om groener weivelde te gaan soek.

Vandeesweek se PGA-stryd sal, soos met die Meesters-toernooi in April, weer die kollig sterk op die deelnemende LIV-spelers plaas.

Gerekende spelers soos Dustin Johnson, Brooks Koepka, Talor Gooch, Patrick Reed en Cameron Smith kan met die bestes saamgesels as hulle ook op hul beste is.

Veral Johnson en Koepka se talente en vertoningslyste kan nie misgekyk word nie.

Johnson het die afgelope LIV-toernooi in Tulsa gewen, terwyl Koepka in April op Augusta in die Meesters-toernooi tot reg aan die einde in die wedloop was om die louere.

Koepka is voorts ʼn dubbele PGA-kampioen (2018 en 2019) en spog ook met twee Amerikaanse Ope-titels (2017 en 2018), terwyl Johnson in 2016 die Amerikaanse Ope en in 2020 die Amerikaanse Meesters gewen het.

Vir die talentvolle Yank Jordan Spieth is dit ook ʼn groot week.

Hy kort nog net die PGA-kroon om die Grand Slam te voltooi en hom by Player, Gene Sarazen, Ben Hogan, Jack Nicklaus en Tiger Woods aan te sluit as ʼn wenner van al vier majors.

Spieth se laaste major-sege was in 2017 toe hy die Britse Ope op Royal Birkdale gewen het nadat hy in 2015 die Meesters- en Amerikaanse Ope-titels ingeoes het.

Nog ʼn groot kanon van die spel, Rory McIlroy, beleef soos Spieth ʼn major-droogte.

Die Noord-Ier se laaste grote op sy vertoningslys was sy sege in 2014 se PGA-toernooi.

In die onlangse Meesters-toernooi kon McIlroy nie die afsnypunt oorleef nie, maar hy is vol vertroue dat hy vandeesweek beter rekenskap van homself sal gee.

Met soveel op die spel vir talle van gholf se heel bestes is die tafel gedek vir ʼn ongekende stryd.

Die 105de PGA-kampioenskap op Oak Hill in syfers:

2: Gary Player het die PGA-titel in 1962 en 1972 gewen.

3: Oak Hill het voorheen in 1980, 2003 en 2013 die PGA-kampioenskap aangebied.

4: Die aantal SA spelers in die veld.

5: Jack Nicklaus en Gene Sarazen se rekord aantal PGA-seges.

63: Jason Dufner se Oak Hill-baanrekord (2013).

-20: Jason Day se PGA-rekord vir houe minder as baansyfer (2015).

264: Brooks Koepka se PGA-rekord vir die laagste aantal houe (2018).

  • Bykomende bronne: Golf Monthly, Golf Weekly, Sky Sports, PGA of America

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.