Vinnige Oakmont-baan laat gholfspelers swets

golf

Foto: pixabay.com

Dit was ʼn eerste ronde van chaos en humeure wat tot die uiterste beproef is toe die 2016 Amerikaanse Ope Vrydag by die Oakmont-buiteklub buite Pittsburgh begin het.

Nege uur nadat die eerste spelers afgeslaan het, is die dag se spel ná drie onderbrekings vir donderweer en reën afgelas met net nege spelers wat reeds hul rondes voltooi het.

Jordan Spieth, een oor ná 11 putjies, het in ʼn stadium sy gholfsak geskop en swetsend uitgevaar teen die vinnige hellings nadat ʼn goeie naderhou eenvoudig van die setperk afgerol en in die sandkuil beland het.

Spieth, een van die gunstelinge, het ook ná ʼn goeie sethou teenoor sy joggie opgemerk: “Net sowel dit was in, anders sou ek ʼn kaphou moes speel,” met verwysing na die hellings op die setperke.

Effense reën Woensdagaand het die setperke ietwat stadiger gemaak, maar volgens Paul McGinley was dit nog steeds baie vinnig. “Selfs ná die reën speel hulle 14 op ʼn gelyke setperk teenoor die 11 in Europa,” het hy gekla. “ ʼn Mens wil nie op ʼn droë Oakmont speel nie!” het hy gesê oor die baan waar die setperke in die besonder ʼn groot uitdaging is.

Die voorloper ná ʼn voltooide ronde was die 19-jarige amateur Scottie Scheffler van die VSA wat met een onder in die klubhuis is.

Andrew Landy, 624ste op die wêreldranglys, was drie onder toe spel vir die dag afgelas is. Hy was toe op die laaste putjie met ʼn sethou vir ʼn voëltjie wat op hom gewag het.

Jason Day, die wêreld se no. 1-speler, het nie Donderdag afgeslaan nie. Die ander twee groot gunstelinge, Rory McIlroy en Spieth, was onderskeidelik op vier oor ná 13 en een oor ná 11 putjies.

Net Thomas Aiken van Suid-Afrika het wel Donderdag afgeslaan. Hy was sewe oor en op die 15de putjie toe daar halt geroep is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.