Vyf van SA se agt oorleef Ope-valbyl

Thomas Aiken – saam met Ernie Els vyf houe agter die voorlopers na twee rondes van die Amerikaanse Ope (Foto Twitter @EuropeanTour)

Vyf van Suid-Afrika se agt spelers in die Amerikaanse Ope sal nog op die laaste twee dae betrokke wees met die voorlopers wat tussen hulle nog nie ʼn Major gewen  het nie en die wêreld se voorste drie wat nie die valbyl oorleef het nie.

Ernie Els, wat in ʼn stadium vier onder was, het soos in die eerste ronde weer by die agtiende putjie – sy negende van die ronde na hy by die 10de afgeslaan het – op die syfer-vyf ʼn hou afgestaan. En dit toe op die eerste van sy tweede nege herhaal.

Op twee-onder is Els saam met Thomas Aiken, wat sy 71 van die eerste ronde herhaal het, gesamentlik in die 24ste plek en vyf houe agter die vier voorlopers, Paul Casey, Brian Harman, Tommy Fleetwood en Brooks Koepka.

Els-hulle is nog allermins uit die wedloop.

♦  Die voorloper na die eerste ronde, Rickey Fowler, was saam met twee spelers een hou agter die voorlopers nadat hy van die 11de tot die 13de drie houe afgestaan het.

♦  Benewens Els en Aiken, gaan Louis Oosthuizen met ʼn baie bestendige 70 na sy teleurstellende 74 op die eerste dag, op syfer 144 die derde ronde binne. Hy het net op die kort syfer-drie sesde putjie ʼn hou verloor.

Branden Grace het sy tweede syfer-72 aangeteken en Brandon Stone het sy goeie 70 in die eerste ronde met 74 opgevolg om ook op syfer 144 na twee rondes klaar te maak.

Charl Schwartzel is na 76 in die tweede ronde en drie oor vir die toernooi klaar met vanjaar se Ope. Oliver Bekker het sy 75 met 76 opgevolg vir sewe-oor en George Coetzee het na sy syfer-72 in die eerste ronde ʼn liederlike 79 aangeteken om ook op sewe-oor te eindig.

♦  Jason Day, Rory McIllroy en Dustin Johnson, die drie voorste spelers op die wêreldranglys, het nie een die valbyl oorleef nie.

Jordan Spieth het 71 in die tweede ronde speel en is op syfer vir die twee rondes, 144, ook glad nie uit  die prentjie nie.

Vir volledige tellings na die eerste twee rondes, klik op http://www.pgatour.com/leaderboard.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirkie ·

Kom aan Ernie, die baan lyk of dit jou pas.
Net n jammerte elke keer op die syfer 5 staan jy houe af. As jy dit in voeltjies kan omskep was jy beslis een van die voorlopers. Hou duim vas vir jou, maak ons trots.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.