WCG-gholf: Morikawa klop hard aan die deur

Collin Morikawa (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Toe die 24-jarige Collin Morikawa verlede jaar in Julie die Amerikaanse PGA-toernooi ná ʼn uitspeelstryd teen Justin Thomas gewen het, is daar groot dinge vir hom voorspel.

Hy het soos ʼn vars briesie deur gholf getrek, maar om hom toe reeds in dieselfde asem as Tiger Woods, Rory Mcllroy en Dustin Johnson te genoem het, was mos dwaas.

Verdien darem eers jou brood en botter en dan gesels ons!

Tog het die talentvolle Morikawa ons weer aan sy deugde herinner nadat hy laat Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) sewe voëltjies oor agt putjies in die derde ronde van die WGC-kampioenskapstoernooi by Brandenton in Florida aangeteken het om die voortou te neem.

Hy was op die 12de putjie nog met vyf houe voor, maar nadat hy oor die laaste paar putjies verbrou het, het hy gaan slaap met ʼn voorsprong van twee houe bo sy Amerikaanse landgenote Billy Horschel en Brooks Koepka, wat met ʼn seer nek sukkel.

Morikawa het die derde ronde in 67 houe voltooi en is op 201 houe, 15 houe onder die baansyfer.

Horschel en Koepka is op 203 met Webb Simpson op 204 en dan die Noord-Ier McIllroy en Patrick Reed op 205.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen het 70 houe in die derde ronde aangeteken en is op 207 in die gesamentlike 11de posisie.

Oosthuizen het vyf voëltjies aangeteken, maar ook op vier putjies houe aan baansyfer afgestaan.

Christiaan Bezuidenhout (214) is saam 35ste met Erik van Rooyen (218), Brandon Stone (219) en JC Ritchie (223) wat ook vasklou.

*  Steeds in Florida is die 50-jarige Annika Sorenstam se vlam effe geblus ná die derde ronde van die Gainbridge LPGA-toernooi nadat sy die eerste keer sedert 2008 – toe sy uitgetree het – wonderbaarlik die afsnypunt kon haal.

Sorenstam het 79 houe (sewe houe meer as baansyfer) aangeteken en slaan Sondagaand laaste af.

Nelly Korda is die voorloper op 203, gevolg deur Patty Tavatanakit van Thailand (204) en Jin Young Ko (Korea), Lydia Ko (Nieu-Seeland) en Angel Jin (VSA) saam derde op 206.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (209) is saam 11de.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.