Westwood wil sy Sun City-titel verdedig

Lee Westwood. (AP Photo/Jon Super).

Wanneer Engeland se Lee Westwood môre by die Nedbank-gholfuitdaagtoernooi op Sun City afslaan, sal dit met die komkommerkoel-houding wees van iemand wat weet wat hy doen.

Die Engelsman is die verdedigende kampioen van Afrika se Major en hy het dié toernooi reeds drie keer vantevore in sy loopbaan gewen.

“My vorige oorwinnings sal my beslis help indien ek myself weer in ’n uitspeelsituasie sou bevind. Ek dink ek sal weet wat om te doen, juis omdat ek al vantevore in ’n soortgelyke situasie was,” het Westwood gesê.

Hy is die eerste Europeër om die toernooi drie keer te wen en is saam met Ernie Els, David Frost en Nick Price die enigste spelers wat die gesogte titel meer as twee keer kon wen.

Vanjaar is ook die veertigste herdenking van Sun City en die Gary Player-buiteklub en Westwood sal poog om die geskiedenisboeke te herskryf deur die eerste speler te word om die Nedbank-toernooi vier keer te wen.

“Dit is altyd lekker om na Sun City terug te kom. Ek is speel al vir ’n hele ruk hier en ek is mal oor die plek. Natuurlik geniet ek die gholfbaan ook baie.”

Westwood het vanjaar nog nie by enige toernooi met die silwerware weggestap nie en hy sal hoop dat sy geluk by Sun City sal draai.

“Ek het hier en daar goed gespeel vanjaar, maar ek sal definitief aan my bestendigheid moet werk. Ek is nou al 46 jaar oud en ek kan nie meer so baie tyd aan oefening afstaan as vroeër in my loopbaan nie.

“Ek probeer net om my beste te speel en as ek Sondag vir die titel kan uitspeel, sal ek baie in my noppies wees.”

En soos reeds genoem, hy sal dán presies weet wat om te doen.

  • Hy slaan môre om 10:50 af. Suid-Afrika se Ernie Els is om 09:00 op die afslaanbof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.