Wind waai Genesis-toernooi onderstebo

Die Amerikaner Sam Burns put op die 9de gat. (Foto: Sean M. Haffey /Getty Images /AFP)

“Daar’s ʼn wind wat waai. Soos hy nou daar waai… hy waai my hier en hy waai my daar.”

Dis ʼn volksliedjie wat heel gepas deur die twee Suid-Afrikaanse gholfspelers Branden Grace en Charl Schwartzel Saterdag by die Riviera-buiteklub in Los Angeles geneurie kon word.

Spel is in die derde ronde van die Genesis-uitnodigingstoernooi vir langer as vier ure gestaak omdat ʼn stormwind te erg gewaai het.

Toestande was onspeelbaar en gevaarlik; takke, blare en opdrifsels het oral rondgewaai en die spelers se balle het beweeg.

Slegs 42 spelers kon hul rondes voltooi en as die wind en weer dit toelaat, sal die res Sondag vroeër afslaan om eers die derde ronde te voltooi voordat hulle in die vierde ronde sal afslaan.

Die 24-jarige jongeling Sam Burns was op die 14de putjie toe spel opgeskort is. Hy is op -10 steeds voor, maar die Engelsman Matthew Fitzpatrick (-8 op die 18de putjie) blaas in sy nek, met drie ander spelers, Dustin Johnson, Max Homa en Wyndham Clark (al drie op -7), wat ook vinnig nader kruip.

Die Buffelsbaaier Grace het kopgehou en 70 houe in die derde ronde aangeteken, wat sewe voëltjies ingesluit het, hoewel hy ook op vyf putjies houe aan baansyfer afgestaan het. Ná sy eerste twee rondes van 71 en 69 houe is hy op 210 houe in die gesamentlike 15de plek.

Schwartzel het minder goed gevaar en was op die 16de putjie twee houe oor die baansyfer in die gesamentlike 50ste plek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.