Wittebrood (tydelik) verby vir SA gholfspelers

Die Suid-Afrikaner Garrick Higgo in aksie. (Foto: Ben Stansall/AFP)

ʼn Week is ʼn lang tyd in gholf, want ná die euforie van verlede week toe Suid-Afrikaanse gholfspelers twee gholftoernooie gewen het en tweede was in ʼn derde toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks, is die wittebrood tydelik verby.

Die 21-jarige Garrick Higgo, wat Sondag die Gran Canaria-ope in Las Palmas gewen het, is negende ná die tweede ronde van die Tenerife-ope in Spanje, wat deel is van die Europese reeks.

Brandon Stone, wat die Limpopo Classic in die Waterberg gewen het, kon nie die afsnypunt haal ná die tweede ronde van die Kaapstad-ope wat by die Royal Cape-buiteklub gespeel word nie, terwyl Charl Schwartzel en veral Louis Oosthuizen, wat tweede was in die Zurich-spantoernooi in New Orleans, nie te waffers vaar in die Valspar-toernooi wat in Florida in die VSA beslis word nie.

* Die onbesonge Nicolai von Dellingshausen van Duitsland, loop ná sy na rondtetellings van 64 en 62 (126) met drie houe voor Pep Angles van Spanje (129) en Kalle Samooja van Finland (130) ná die tweede ronde van die Tenerife-ope.

Dean Burmester, wat ná die eerste ronde voor was op 63, is op 131 houe (-11) sewende, gevolg deur Louis de Jager (132) en Higgo (133), wat tellings van 63 en 70 op sy telkaart ingevul het.

Justin Harding en Zander Lombard is albei op 135.

* In Kaapstad het die jong Fransman Jeong-Weon Ko (hy is van Koreaanse afkoms, maar is in Frankryk gebore) die voortou saam met die Kapenaar Jacques Blaauw geneem ná die tweede ronde van die Kaapstad-ope.

Die Nieu-Seelander Daniel Hillier (136) is derde, gevolg deur twee spelers van Denemarke, Niklas Norgaard Moller en Martin Simonsen, albei op 137.

* Die twee Amerikaners Sam Burns en Keegan Bradley is op 130, vier houe voor Charley Hoffman, Max Homa en Lucas Glover (almal 134) ná die tweede ronde van die Valspar-toernooi, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Schwartzel, wat rondes van 70 en 65 aangeteken het, blaas warm in die gesamentlike sesde posisie, gevolg deur Branden Grace (137) en Oosthuizen (140).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.