Gibson se moeilike taak

Faf du Plessis en Ottis Gibson. Daar is druk op Gibson se skouers om in die Wêreldbeker te presteer. Foto: Cricinfo.

In 1992 het Duckworth en Lewis die Proteas se kanse teen Engeland belemmer.

In 1996 het swak spankeuses en Brian Lara se kolfmeesterklas vir Hansie Cronje-hulle in die kwarteindstryd uitgeboender.

In 1999 het die Lance Klusener/Allan Donald-uithardloopfiasko die span se beste kans nóg om die Wêreldbeker te lig, in die wiele gery.

In 2003 het Shaun Pollock die wiskundetoets teen Sri Lanka gedruip.

In 2007 het Mickey Arthur en Graeme Smith se “dapper krieket”-benadering lelik teen Australië misluk.

In 2011 het die span net pleinweg gechoke in die kwarteindstryd teen Nieu-Seeland.

In 2015 het ’n gekarring aan ’n wenspan en Grant Elliot se ses in die laaste boulbeurt gesorg dat AB de Villiers se elftal in die halfeindstryd uitgeskakel is.

Dít is die Proteas se verhaal in die Krieketwêreldbeker. In sewe probeerslae kon Suid-Afrika se nasionale krieketspan nog nie een keer vir die eindstryd kwalifiseer nie. Hulle het wel in vier halfeindstryde (1992, 1999, 2007 en 2015) gespeel, maar die daaropvolgende trappie was nog elke keer net té hoog.

Nou het die huidige breier, Ottis Gibson, die mandaat om vanjaar vir die eindstryd te kwalifiseer.

Trouens, hy is ’n seisoen of wat gelede aangestel met die uitsluitlike doel om die toernooi te wen, maar deesdae is Krieket Suid-Afrika se ringkoppe meer as tevrede as die span “net” die eindstryd later vanjaar in Engeland haal.

Tog sal sy kontrak ná die wêreldskouspel geëvalueer word.

“Ottis is bereid om die pad verder saam met ons te stap, maar hy sal na sy nuwe kontrak moet kyk en die komitee sal ook sy kontrak moet evalueer,” het KSA se hoof- uitvoerende beampte, Thabang Moroe, gesê.

Onder Gibson se leiding is die Proteas tans derde op die ranglys vir toetslande, vierde op die eendaglys en vyfde op die internasionale T20-punteleer.

In eendagkrieket is daar twee kolwers (Quinton de Kock en Faf du Plessis) onder die top-10 ter wêreld, terwyl Imran Tahir en Kagiso Rabada onder die beste boulers tel.

Gibson het vanjaar skoonskip in die tuisreeks teen Pakistan gemaak, maar die toetsreeks teen Sri Lanka sleg verloor. Dit was die eerste keer dat ’n span uit Asië ’n reeks in Suid-Afrika kon wen.

Die span het egter teruggebons met seges in die eendag- en T20-reeks teen die eilandbewoners.

Tog is KSA tevrede met Gibson se vertoning.

“Ek is baie gelukkig met sy vertoning en die manier hoe hy as afrigter dinge hanteer. Hy het ons krieket op nasionale én internasionale vlak kom verander,” het Moroe gesê.

Daar is vroeër die week aangekondig dat daar geen transformasieteikens vir die komende toernooi gestel is nie.

Gibson sal steeds moet vermag wat geen ander Protea-breier (wat Mike Proctor, Bob Woolmer en Graham Ford ondere andere insluit) kon doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.