Gibson wil span volgens spelpeil kies

As die Wêreldbeker-span volgens huidige spelpeil gekies word, behoort Aiden Markram maklik die begin-elftal te haal. Foto: Cricinfo.

Die T20-reeks tussen die Proteas en Sri Lanka begin vandag op Nuweland. Hoewel die mik-en-moker-weergawe van die spel nie noodwendig eendagsukses beteken nie – al word daar deesdae óók teen agt lopies per beurt oor 50 boulbeurte gekolf – sal die Proteas steeds ’n sterk vertoning wil lewer.

Ten spyte van die feit dat die aandag nou na kitskoskrieket verskuif word, is die Wêreldbeker later vanjaar in Engeland steeds die hoofdis waarop almal wag.

In ’n perskonferensie het die Protea-afrigter, Ottis Gibson, sy spankiesstrategie vir die komende toernooi bekend gemaak.

In sewe probeerslae sedert 1992 het Suid-Afrika nog nie een keer die silwerware gelig nie. Hul beste kans om dít te doen was in 1999 toe die span op dramatiese wyse gelykop teen Australië op Edgbaston gespeel het.

Met een paaltjie staande en ’n enkellopie nodig om die wedstryd te wen het Lance Klusener (Suid-Afrika se komkommerkoel-wedstrydwenner) in die laaste boulbeurt vir Damian Fleming in die rigting van halfweg geslaan en vir die wenlopie weggetrek.

Sy mede-kolwer, Allan Donald, het egter nie Klusener se roep gehoor nie en is in die verwarring uitgehardloop.

Australië het daardie jaar die Wêreldbeker gewen.

“Eerstens wil jy ’n span volgens spelpeil kies. As spelpeil moeilik bepaalbaar is, dan moet jy maar na reputasie kyk,” het Gibson gesê.

Die betroubare Hashim Amla beleef ’n swak seisoen met die kolf, terwyl sy familie ook deur ’n baie moeilike tyd gaan met sy pa se swak gesondheid.

“Met betrekking tot Hash: Hy het nie baie krieket die afgelope tyd gespeel nie as gevolg van sy familie se situasie. Wanneer ons gaan sit om die span te bespreek, sal dit definitief een van die dinge wees wat ons in ag moet neem,” het Gibson gesê.

  • Die eerste aflewering in vanaand se T20-wedstryd word om 18:00 afgestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Veritas ·

Amla se dae as internasionale speler, is getel. Sy loopbaan was vol hoogtepunte maar daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. Sy tyd om te gaan, het nou gekom.

Boesman ·

Veritas, ek stem100% saam met jou. Ek is n groot aanhanger van Aiden Markram. Hy behoort kop en skouers bo enigiemand saam met Quentin de Kock die opening kolwers te wees, OF Reeza Hendricks en de Kock met Markram no. 3

stoney ·

Ag help asb. Wat was die krieketuitslag gister 19 Mrt. Eskom was di vlieg inni salf! Dis nou Proteas.

IZAAN ·

MAROELA MEDIA. JA, ASB. WIL OOK WEET WAT DIE T20 TELLING WAS VAN GISTER SE SPEL.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.