Harding maak ranglyssprong

Justin Harding. Foto: twitter.com/JustinHarding60.

Te danke aan sy eerste sege op die Europese Toer is Suid-Afrika se Justin Harding tans 52ste op die wêreldranglys.

Saam met sy wentjek van R4,2 miljoen by die Katar Meesters, het die 33-jarige 22 plekke op die ranglys gespring. Hy was reeds die derde beste SA speler op die lys, naas Branden Grace (41) en Louis Oosthuizen (28).

Indien Harding voor die einde van die maand onder die top-50 spelers tel, sal hy outomaties na die Meesterstoernooi op Augusta genooi word.

Sedert Februarie 2018 het hy in 22 lande gespeel en was hy 15 keer onder die top-10 spelers by die onderskeie toernooie. Die sege in Katar was sy vyfde in nege maande.

Harding het reusespronge op die ranglys gemaak. Teen die einde van 2017 was hy die 712de beste speler ter wêreld, maar binne die bestek van twee jaar tel hy deesdae onder die wêreld se voorste spelers.

Suid-Afrika se Shaun Norris is 85ste op die lys, terwyl Dylan Frittelli die 89ste posisie beklee.

Die enigste Suid-Afrikaanse speler wat in die verkeerde rigting beweeg, is Charl Schwartzel. Die moontlikheid staar die Meesterskampioen van 2011 in die gesig om buite die top-100 spelers te tel – ’n posisie wat hy laas in 2008 beklee het.

Hy sal egter by Augusta afslaan omdat hy ’n voormalige kampioen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.