Hekkies-held nou ’n dosent

LJ van Zyl vlieg oor ’n hekkie. Foto: Facebook.

LJ van Zyl was een van Suid-Afrika se suksesvolste atlete en deesdae wy hy hom daaraan toe om dié sportkennis aan ʼn volgende generasie oor te dra.

Die 33-jarige voormalige hekkiesster het goud by die Statebondspele gesmaak, terwyl hy ’n o. 20-wêreldkampioen was. In 2018 het hy sy uittrede uit atletiek aangekondig en tans is hy ’n sportbestuurdosent en praktiese koördineer aan die Universiteit van Pretoria.

“Vir 17 jaar was atletiek my lewe: Ek het atletiek geëet, gedrink en geslaap,” het hy Maandagmiddag aan Maroela Media gesê.

“Op ’n punt raak mens só gewoond aan die roetine… en dit is een van die gróót redes waarom ek my uittrede aangekondig het. As jy nie elke oefensessie doelgerig en met passie aanpak nie, dan weet jy die tyd is ryp om op te hou. Tog mis ek die snaakse dinge van atletiek – goed wat ek nooit gedink het ek sou mis nie.”

Hy was ’n gereelde gesig op nasionale én internasionale podiums. Foto: Facebook.

Van Zyl het drie medaljes (twee silwer en ’n goue) by die Statebondspele ingepalm, terwyl hy drie keer by die Olimpiese Spele in aksie was. Dan was hy male sonder tal die nasionale kampioen in die 400 m‑hekkies, terwyl hy ook met ’n rits internasionale podiumplekke spog.

“Elke byeenkoms was uniek en spesiaal vir my, maar as ek een moes uitsonder, is dit beslis die 2008 Olimpiese Spele in Beijing.”

Hy het by dié wêreldskouspel vyfde in die 400 m‑hekkies klaargemaak met sy tyd van 48.42 s. So van tye gepraat – sy vinnigste tyd vir die 400 m‑hekkies is ’n indrukwekkende 47.66 s.

“Mens sal altyd na die tyd wou vinniger hardloop, maar ek glo ek het my top-spoed bereik. Ek dink wel ek sou vinniger kon gehardloop het, as ons Suid-Afrikaanse seisoen nie so lank is nie. Ons begin in Februariemaand en eindig eers in September. Dit is baie moeilik om so lank op alle silinders te vuur met ’n verkorte winterprogram.”

As hekkie-atleet is jou tegniek baie belangrik. En Van Zyl het gereeld aan sy vaardighede op die oefenbaan geskaaf.

“Ek het ten minste vier keer per week aan my tegniek gewerk en het dit baie kere sommer tydens die opwarmingsessies gedoen. Mens leer maklik slegte gewoontes aan – veral as dit by jou tegniek kom.”

Hy is met die Suid-Afrikaanse marathonatleet Irvette van Zyl getroud en hy sien uit na wat die toekoms vir hom en sy jong gesin inhou. Hy is nou juis in die Kaap waar hy haar help met haar voorbereiding vir die Two Oceans-marathon.

“ ’n Splinternuwe lewe het vir my oopgegaan ná my atletiekuittrede. My twee seuns, Louis (4) en Gideon (1), hou my besig en ek het terselfdertyd ook baie van myself geleer. Ek sien uit om hulle te sien grootword en ook hulle sport te geniet. My vrou hou my selfs besiger en is volstoom aan’t oefen as marathon-atleet.”

’n Paar Van Zyl-feite:

  • Beste tye:

100 m: 10.3 s

200 m: 20.71 s

400 m: 44.56 s

400 m‑hekkies: 47.66 s

  • “My grootste teenstander was sonder twyfel die Amerikaanse atleet, Bershawn Jackson. Hy is maar 1,70 m lank, maar was blitsig tussen die hekkies.”
  • “Kleiner byeenkomste was altyd vir my die ergste om aan deel te neem. Dié tipe wedlope waar ek met ’n sekonde die vinnigste was, was altyd vir my senutergend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andreas ·

Jy verdien al die geluk in jou lewe LJ, jy het ons deur al die jare baie plesier verskaf, vasgenaal voor die kassie laat sit. Elke keer as jy in ‘n groot wedloop weggevlieg het, het ek geglo jy kan dit wen, jy is een van dié wat in die geskiedenis onthou sal word. Voorspoed. En dis reg dat jy jou vrou ondersteun, do so voort.

Benjamin ·

Weens sy “verkeerde” velkleur sou hy nie verder gekom het in atletiek nie. Hy kan BAIE bly wees hy het met sy wit vel wel werk as dosent gekry. Ek kan op grond van kwalifikasies en ondervinding ook ‘n dosent wees, maar regstellende aksie en BEE keer my om daar in te kom. Eks al 5 jaar ‘n taxi drywer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.