Herbert: ‘Ek onthou die nag in Sydney asof dit gister was’

Llewellyn Herbert was een van Suid-Afrika se voorste 400 m hekkiesatlete. Foto: verskaf.

Dit is 27 September 2000 en op dié amperse somersaand is die wêreld se oë gerig op Sydney, Australië. Dié land speel gasheer vir die Olimpiese Spele en dit is tyd vir een van die grootste items: die eindstryd van die 400 m hekkies.

In baan ses tree Suid-Afrika se Llewellyn Herbert aan. Hy is een van die gunstelinge om die goue medalje te wen. En die uitsaaiers wéét dit.

Terwyl die televisiekameras op hom fokus, praat hy homself moed in en vee vir oulaas met sy hande deur die blonde strepe in sy hare. Langs hom is die Amerikaner James Carter en ’n paar bane verder is nóg ’n Yank – Angelo Taylor.

Die gelaaide atmosfeer kan met ’n mes gesny word en die skare in Sydney se Olimpiese Stadion hou opgewonde hul asems op. Kort daarna knal die afsitter se geweerskoot deur die lug. Minder as ’n minuut later – 47,50 sekondes om presies te wees – vier Taylor sy Olimpiese goud, met Herbert ’n breukdeel van ’n sekonde stadiger.

’n Onlangse foto van Herbert en sy seun, Keanu. Foto: verskaf.

Maar Herbert se tyd van 47,81 sekondes is nie net die beste van sy loopbaan nie; dit het hom ook ’n Olimpiese brons medalje in die sak gebring.

“Ek onthou nog dié dag asof dit gister was, en saam met die silwer medalje wat ek gedurende die 1997 Wêreldkampioenskap in Athene gewen het, is dit sonder twyfel die grootste oomblikke van my loopbaan. Ongelukkig is my medaljes gesteel en ek gaan die IAAF kontak om te hoor of hulle dit vir my kan vervang.”

Die 41-jarige Herbert werk deesdae vir Outsurance as ’n kommersiële agent en spesialiseer in korttermyn- sowel as sakeversekering.

“Ek wil nog deel wees van atletiek in Suid-Afrika en ek help graag by afrigterswerksessies en klinieke uit as ek gevra word.”

Hy glo dat Suid-Afrika oor genoeg atletiektalent beskik om sy man in die internasionale arena te staan.

“Terselfdertyd dink ek die internasionale 400 m hekkies-standaard is baie hoog en veral atlete soos Abderrahman Samba van Katar maak my opgewonde.”

Herbert se beste tye:
100 m: 10,20 sekondes (Bloemfontein 1999)
200 m: 20,50 sekondes (Secunda 1999)
400 m: 46,16 sekondes (Germiston 2002)
110 m hekkies: 13,91 sekondes (Germiston 1998)
400 m hekkies: 47,81 (Sydney 2000)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B ·

Ek het al baie gewonder as iem wat so talentvol is nou 10km / 21km padwedlope begin doen, of selfs landloop? (Op 41j ouderdom val jy nou in die veterane kat)
Behoort baie goed te doen! :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.