Highlanders wen wipplankstryd

Argieffoto.

Die Highlanders het vanoggend bewys dat hulle die Houdini’s van Superrugby is, ná hulle die Queensland Reds 36–31 geklop het.

Met sewe minute oor in dié kragmeting, was hulle 29–31 agter. Die span het in die eerste ronde óók ’n agterstand uitgewis om die Chiefs 30–27 te wen.

Vandag het hulle ’n voorsprong van 24–10 weggesmyt, maar die flank Dillon Hunt se drie laat in die tweede helfte het hulle hul tweede agtereenvolgende sege besorg.

Die wedstryd is teen ’n blitsige tempo gespeel en altesaam nege drieë is gedruk: vier vir die Reds en vyf vir die Highlanders.

Die Highlanders het aanvanklik hul kanse die beste benut, maar die Reds het terugbaklei om in die tweede helfte uiteindelik die voortou te neem.

Die Reds se herlewing is deur Isack Rodda van stapel gestuur ná die Australiërs vir ’n geruime tyd hul eie doellyn moes verdedig. ’n Sterk duikslag en omgekeerde balbesit – soos Naas sê, die gevaarlikste vorm van besit – het gesorg dat ’n puik drie die beweging afrond.

Nóg ’n Queensland-drie – dié keer deur Feao Fotuaika – het gesorg dat die Aussies die voortou in die 57ste minuut neem.

Maar die Highlanders het hergroepeer en in die laaste 10 minute van die wedstryd aanval na aanval geloods, met Hunt se drie die kersie op die koek.

“Dit was vrek moeilik vir die ouens gewees,” het die Highlanders se kaptein, Luke Whitelock, gesê. “Dit was ’n wipplankwedstryd en die spanne het om die beurt punte aangeteken.”

Puntemakers:

Highlanders 36 (24)

Drieë: Rob Thompson, Shannon Frizell (2), Ben Smith, Dillon Hunt. Doelskoppe: Josh Loane (4). Strafskop: Josh Loane.

Reds 31 (17)

Drieë: Chris Feauai-Sautia, Moses Sorovi, Izack Rodda, Feao Fotuaika. Doelskoppe: Bryce Hegarty (3), Hamish Stewart. Strafskop: Bryce Hegarty.

* Die Suid-Afrikaanse spanne is môre in aksie, met die Sharks wat die Blues om 15:05 pak, die groot Stormers/Lions-derby om 17:15 en die Bulls wat om 23:40 teen die Jaguares in Argentinië speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.