Holgate help met Stormers se Super-ontdekkingsreis

Siya Kolisi en Kingsley Holgate. Foto: verskaf.

Die wêreldbekende ontdekkingsreisiger, Kingsley Holgate, het gister die Stormers se motiveringsessie gelei waar hy hulle gehelp het om geestelik vir die komende seisoen voor te berei.

Hy het veral klem op spanwerk gelê. Holgate het gesê daar is duidelike ooreenkomste tussen iemand se vermoë om die wêreld se taaiste bergpieke of terrein te tem, en wanneer ’n span sy teenstanders op die rugbyveld moet trotseer. Hy het bygevoeg dat hy altyd ’n ondersteuningspan bymekaarslaan vóór hy op een van sy ekspedisies vertrek.

“Elke lid van my ekspedisiespan het ’n belangrike rol om te vervul wanneer ons toer,” het Holgate gesê gedurende ’n sosiale geleentheid wat deur die Stormers se borg, Land Rover, aangebied is.

“Toegegee, dit kan dalk anders lyk wanneer ons in konvooi met ons Land Rovers op roetes ry wat deur baie as onbegaanbaar bestempel word, as wanneer die DHL Stormers byvoorbeeld gereed maak vir die komende seisoen, maar daar is ongetwyfeld ooreenkomste. Met die doellyn in sig, is spanwerk bitter belangrik.”

Holgate het juis pas ’n moordende rit van Kaapstad tot in Katmandu (Nepal) aangepak.

Die Stormers se kaptein, Siya Kolisi, het gesê dat Holgate se motiveringspraatjie tot voordeel van die span in die komende Superreeks sal strek.

“Om na Kingsley se avonture te luister waar hy en sy span deur moeilike tye is, is presies die soort motivering wat ons nodig het vóór ons self op die rugbyveld gaan oorlog maak.”

“Jy het ongetwyfeld ’n ondersteuningspan nodig as jy jou doelwitte wil bereik. Kingsley en sy span het Katmandu aangevat en hulle het hul drome verwesenlik omdat hulle saamgewerk het. Ons wil die Superrugbybeker wen, en ons sal dieselfde doen.”

Die Stormers skop hul veldtog op 16 Februarie af wanneer hulle teen die Bulls op Loftus Versfeld speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.