Iere delf diep teen passievolle Italianers

(Foto: Lorenzo Di Cola/NurPhoto/AFP)

Drie uit drie!

Nog ʼn bonuspuntsege, die voorlopers met 15 punte op die puntelys in die sakkie en stewig op pad na die Sesnasieskroon en ʼn Grand Slam.

Dit was Saterdag in Rome die somtotaal van Ierland se rugbyspan se oorwinning toe hy Italië met 41 – 20 geklop het.

Die Iere was rustyd met 24 – 17 voor nadat hulle binne die eerste 35 minute vier drieë deur die instaan-kaptein James Ryan, die heelagter Hugo Keenan, die senter Bundee Aki en die vleuel Mack Hansen gedruk het.

Maar Italië het nooit gaan lê nie en geantwoord met twee drieë deur Stephen Varney en Pierre Bruno.

Hulle was in die tweede helfte net met vier punte agter, het van enige plek af begin hardloop en het die Iere behoorlik getoets.

Weg is die dae dat die Italianers blote kanonvoer was, dat die kragmetings met die Azzurri die maklikste in die reeks was en een om rekords op te stel.

Nou ding hulle behoorlik mee, hulle beheer die tempo van die wedstryd, hul voorspelers wen genoeg besit in die vaste fasette en agterlangs is daar heelwat vaart en ondernemingsgees.

Die Iere, danksy hul oorwinning is steeds die voorste span op die wêreldranglys en op koers om as Sesnasies-kampioen gekroon te word.

Hulle moes Saterdag sonder die beseerde losskakel Johnny Sexton klaarkom en hoewel Ross Byrne sy skoene goed volgestaan het, het daar soms ʼn vonk ontbreek.

Maar dalk was dit net die regte medisyne wat die span nodig gehad het.

Punte: Ierland 41 (24): Drieë: James Ryan, Hugo Keenan, Bundee Aki, Mack Hansen (2). Doelskoppe: Ross Byrne (3). Strafdoele: Byrne (3).

Italië 20 (17): Drieë: James Varney, Pierre Bruno. Doelskoppe: Paolo Garbisi (2). Strafdoele: Garbisi (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.