Indië kraai ook koning in die T20-reeks

Argieffoto: AP Photo/Themba Hadebe

Indië het weliswaar die toetsreeks teen Suid-Afrika verloor, maar in die korter formaat van die spel was hulle baas. Indië het die Eendag-reeks met 5-1 gewen en Saterdag op Nuweland het hulle ook die T20-reeks met 2-1 verower.

Suid-Afrika se T20-krieketspan het net in die tweede T20-wedstryd na ʼn wenspan gelyk toe ʼn paar spelers ons tot ʼn oorwinning gelei het. Die res van die tyd was dit eenrigting-verkeer met Indië wat alle fasette van die spel oorheers het en die kitaar witwarm geslaan het.

Suid-Afrika het die loot gewen en die besoekers ingestuur om te kolf. Indië het 172/7 op ʼn droë kolfblad aangeteken. Die grootste tellings is deur Dhawan (47) en Raina (43) aangeteken. Chris Morris was weer die duurste bouler en het 43 lopies in sy vier beurte teen ʼn gemiddeld van 10,75 lopies per boulbeurt afgestaan. Junior Dala het drie paaltjies vir 35 lopies platgetrek.

Suid-Afrika was die taak gestel om die tweede hoogste telling nog in ʼn suksesvolle jaagtog op Nuweland daar te stel. Die Proteas-kolwers het egter te stadig begin en die druk was deurentyd net te veel.

David Miller en Reeza Hendricks het die beurt geopen, maar hul vennootskap was net tien lopies. JP Duminy het weer eens ʼn kapteinsbeurt van 55 lopies van 59 balle bygedra terwyl nuweling Christiaan Jonker 49 van 39 balle gemoker het. Jonker en Farhaan Behardien het 51 lopies van die laaste 21 balle gemoker, maar dit was helaas nie genoeg om die Proteas tot ʼn oorwinning te lei nie. Suid-Afrika kon net antwoord met 165/6 (20 bb). Bhuvneshwar Kumar het net 24 lopies in sy vier beurte afgestaan en hy het twee paaltjies platgetrek.

Die T20-reeks word deur Indië met 2-1 gewen. Komende week begin die toetsreeks teen Australië.

Klik hier vir meer inligting: http://www.espncricinfo.com/series/18065/game/1122287/south-africa-vs-india-3rd-t20i-ind-in-sa-2017-18/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Hi

JP Duminy het 55 lopies van 41 balle aangeteken en Christiaan Jonker het 49 van 24 balle aangeteken.

Groete
koos

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.