Is ‘Speckmagic’ se toorkunsies Bokmateriaal?

Rosco Speckman het al vier drieë in vanjaar se Superreeks vir die Bulls gedruk. Foto: GB Jordaan.

Rosco “Speckmagic” Speckman het lank op die sewesveld sy toorkunsies vir die Blitsbokke uitgestal. Maar deesdae is hy vinnig besig om een van Loftus se nuwe lieflinge te word.

Met sy vier drieë tel hy onder die derde voorste driedrukkers in vanjaar se Superrugbyreeks en sy spoed maak van hom ’n faktor op enige rugbyveld.

“Wel, ek hoop Rosco kan dit maak vir die Wêreldbeker,” het Blitsbokafrigter Neil Powell Woensdag aan Maroela Media gesê. En Powell behoort die speler góéd te ken.

Speckman was deel van die Blitsbokspan wat in 2016 die bronsmedalje op die Olimpiese Spele gewen het, terwyl hy gereeld onder die voorste driedrukkers vir die nasionale sewesspan getel het.

Tog voel sy Blitsbokspanmaat en Lions-losvoorspeler, Kwagga Smith, dat die Bulls eers hul staal teen oorsese spanne moet wys sodat Speckman homself teen ander teenstanders ook kan meet.

“Ek kan op die oomblik nie sê of hy die Bokspan gaan maak of nie, want hulle (die Bulls) het nog teen geen Nieu-Seelandse of Australiese spanne gespeel nie,” het Smith gesê.

Wat wel die waarheid is, is dat die skare deesdae begin saampraat wanneer Speckman die bal het. Byna soos met die Lions se Aphiwe Dyantyi of die Hurricanes se Ngani Laumape – al is hy ’n senter.

Maar Speckman se pad na die Springbokspan kan ’n moeilike een wees. Want om ’n lang storie kort te maak: Die Springbokke se vleuelspens is taamlik vol. Dink aan spelers soos Dyantyi, Ruan Combrinck, Makazole Mapimpi, Sibusiso Nkosi en Courtnall Skosan … om net ’n paar te noem.

Wat maak die 29-jarige Speckman dan so spesiaal?

“Buiten die feit dat hy baie vinnig is, is die werklike verskil tussen hom en ander spelers waarskynlik sy vaartversnelling van die merkie en sy voetvaardighede,” sê Jimmy Stonehouse.

Stonehouse het Speckman by die Pumas gebrei en is ook deeglik bewus van dié blitsige vleuel se driedrukvermoë.

“Rosco se vermoë om gapings te sien en in ’n spasie in te hardloop, maak van hom ’n pluspunt vir enige span. Hy gaan selde ‘dood’ met die bal – hy het die vermoë om kontinuïteit te behou met sy flink aangeewerk en goeie skoppies.”

“Ja, hy kan ’n Springbok word en hy is goed genoeg. Ja, sy verdediging is soms onder verdenking wanneer hy teen groter vleuels speel – iets wat ’n gegewe gaan wees wanneer hy teen ander lande te staan kom. Maar die Bokke se opskietverdediging kan hom help – kyk byvoorbeeld na Cheslin Kolbe. Rosco se spoed, vaartversnelling en vinnige voete laat hom gapings en geleenthede skep; nie net vir homself nie, maar vir ander spelers ook.”

“Rosco is ’n goeie speler, maar die ander vleuels se Springbokervaring gaan baie in hul guns tel,” sê die Valke se Gerhard Swarts.

En in Wêreldbeker-jaar kan ervaring dalk meer vir ’n nasionale breier as spelpeil tel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Babertondaisy ·

Definetief. Springbok linkervleuel . En hy kan verdedig anders as midgitry.

marco polo ·

Daardie ‘ander’ vleuels is ook maar net kwotaspelers, gee vir Speckman n kans.

Johan ·

Moet homself nog bietjie bewys. Bulle het nog nie teen die gevaarlikes getoets nie. Kom ons kyk eers wat maak hy teen die NZ’ders. Dink wel hy sal ‘n briljante impak speler maak. Sy werk in verlede was juis om soveel driee te druk moontlik in 14minute.

Babertondaisy ·

Marco jy is reg. Sover is Specman juis NIE ‘n kwota speler nie en op huidige spelpeil behoort hy gekies te word watookal kleur hy kon wees.

Blitzbokkefan ·

Ek is al jare n groot fan van Rosco , hy sal n briljante impak speller maak , hy laat my baie dink aan Brent Russell jare gelede van die Sharks wat ook klein en rats was en tog het hy vir die Bokke uitgedraf , Rosco kan dit nog beter doen ….groen en goud vir die Man en n Bells

TVW ·

Kwagga het dan nie veel dink van plaaslike spelers as hy dink Speckman moet eers teen die oorsese spelers hom sal moet bewys nie?

Hennie ·

Hy is beslis beter as die paloekas van die Sharks, hulle kan glad nie verdedig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.