Ja vir kontaksport-oefening; nee vir wedstryde

Ter illustrasie. (Foto: Takumi Sato, AP)

Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, het vandeesweek die groen lig vir kontaksport-atlete gegee om weer stelselmatige die oefenveld te betree, maar wedstryde is steeds buite die kwessie.

Sy departement het die jongste regulasies (6 Julie 2020) in die Staatskoerant gepubliseer.

Alle sportbeheerliggame moet onder meer binne 14 dae skriftelike toestemming vra om oefensessies te hervat. Natuurlik kan die departement dalk die versoek afkeur, waarna daar binne ’n verdere 14 dae geappelleer mag word.

Volgens die regulasies mag kontaksportsoorte – waaronder rugby – hul oefensessies eers dan hervat, maar geen toeskouers sal toegelaat word nie en streng gesondheidsmaatreëls sal gehandhaaf moet word.

Têkkel- en ander nabykontak-oefensessies word egter nie aangemoedig nie, terwyl atlete hul maskers moet dra.

Dit behoort egter steeds welkome nuus vir SA Rugby te wees; Nieu-Seeland is al in hul vyfde week van die Aotearoa-reeks, terwyl ’n plaaslike weergawe van die Superrugby-toernooi ook die afgelope naweek in Australië afgeskop het.

Daarteenoor het Suid-Afrikaanse spelers laas in Maart rugby gespeel.

In ’n onderhoud met stuff.co.nz het SANZAAR se uitvoerende hoof, Andy Marinos, gesê dat hy optimisties is dat die Rugbykampioenskap wel vanjaar kan voortgaan.

“Op hierdie stadium kyk ons daarna om die kampioenskap teen die einde van Oktober aan te bied en ons het agt weke nodig om ’n suksesvolle toernooi te organiseer,” het Marinos gesê.

Hy het egter bygevoeg dat dit onderworpe aan die betrokke lande se gesondheidsregulasies is. Al die wedstryde kan moontlik in Wes-Australië gespeel word.

Volgens Mthetwa moet elke sportsoort ’n register hou van al die spelers en beamptes se persoonlike inligting. Hierdie lêer moet dan vir ses maande bewaar word.

Alle betrokkenes moet ook vooraf vir Covid-19 getoets word en bykomende voorsorgmaatreëls moet getref word indien in Covid-19-brandpuntgebiede geoefen word.

“Sportbeheerliggame moet volle verantwoordelikheid vir die veiligheid en gesondheid van hul lede aanvaar.”

Krieket Suid-Afrika was reeds oor die vingers getik oor hul 3TeamCricket-inisiatief op SuperSportpark in Centurion.

Volgens Mthethwa het KSA nie die nodige toestemming gehad om die wedstryd op 27 Junie aan te bied nie. Hy het wel ’n rukkie daarna die groen lig gegee en die wedstryd word nou op 18 Julie gespeel.

Daar is egter nog geen sprake van die heropening van gimnasiums nie.

United Gyms het onder meer ’n hofaansoek van stapel gestuur sodat gimnasiums onder streng gesondheidsmaatreëls kan open.

Dit word verwag dat tot 80% van alle gimnasiums hul deur permanent kan sluit indien hulle langer toe bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae