Jaguares sou Dok Craven-hulle trots gemaak het

Die Jaguares vier fees na hulle oorwinning oor die Chiefs. (Foto: JaguaresARG/Twitter)

Dit was ʼn jarelange droom van die oud-Suid-Afrikaanse rugbybaas dr. Danie Craven om rugby in Suid-Amerika te ontwikkel, om rugby daar te vestig, om diepte te ontwikkel en veral om van Argentinië ʼn wêreldkrag te maak.

Nou is dit nie meer ʼn droom nie, want vroeg Saterdagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) het die Argentynse Jaguares (eintlik maar die nasionale span) rugbygeskiedenis in die Estadio José Amalfitani in Buenos Aires gemaak toe hulle die Chiefs met 21 – 16 in die kwarteindronde van die Superrugby-reeks geklop het.

Die Jaguares, wat rustyd met 8 – 10 agter was, sal aanstaande naweek in die halfeindronde weer tuis speel teen die wenner van die kragmeting tussen die Brumbies en die Sharks in Canberra.

Dis is glad nie vergesog nie dat die Jaguares ook dié wedstryd sal wen om die eerste keer tot die eindstryd deur te dring.

Hoe ironies was die kragmeting met die Chiefs nie, want waar Argentynse spanne van die verlede die skrum as grondslag van hul aanslae gebruik het, het hulle teen die Chiefs in die skrums gesukkel, maar was hul verdediging puik, hul lynstaanspel en vermoë om besit in die los om te keer, uit die boonste rakke.

Dan was hul hanteerwerk (die veld was glad en nat) ʼn lus vir die oog en het hul agterspelers weer gedy wanneer hulle in besit gestel is.

Die statistiek vertel die verhaal dat die Chiefs 52% teenoor 48% se gebiedsvoordeel geniet het, dat hulle 440 meter teenoor 278 meter met die bal gevorder het, dat hulle 174 teenoor 125 keer die bal aan- en uitgegee het, dat hulle minder duikslae (104 teenoor 123) uitgevoer het, maar steeds verloor het.

Hoekom?

Want die Jaguares was passievol, hulle het hul lywe vir mekaar op die spel geplaas, hulle het in die losskrums (binne die reëls) ingedons en hul teenstanders behoorlik nerwe afgeduik.

Ai, as van die Suid-Afrikaanse Superrugbyspanne (en ook die nasionale krieketspan) maar met soveel geesdrif kon speel, sou die hartseerverhaal so maklik in ander wêrelddele geskryf kon word.

Dan was die Jaguares se dissipline ook redelik in die kol.

Hulle draai beslis nie die ander wang nie, hulle boer op die onkantlyn, maar hulle het geleer om die vrugte van goeie speldissipline te pluk.

Hou die Jaguares maar dop in die halfeind en hoewel die senuwees dalk sal lol, veral voor hul duisende singende Argentynse ondersteuners, het hulle genoeg spelbrekers en spelskeppers om op wyle dok Craven en die afrigter wyle Izak van Heerden se nalatenskap van donkiejare gelede voort te bou.

Punte: Jaguares 21 (8): Drieë: Pablo Matera, Matias Moroni. Doelskop: Joaquin Diaz Bonilla.  Strafdoele: Bonilla (3).

Chiefs 16 (10): Drie: Lachlan Boshier. Doelskop: Jack Debreczini. Strafdoele: Debreczini (2), Marty McKenzie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swartwolf ·

Fantastiese rugby. Al is dit amper ‘n internasionale span. En dan is daar idiote wat die Argentyne afmaak as ‘n asado braaivleis span. Min spanne, insluirende AL die ander spanne in die SA konferensie sou teen hul verloor het. Dalk die Crusaders ook.

Frans C ·

Tog het hul tweekeer teen die Leeus verloor op hul tuisveld en in Johannesburg.
Met Damian McKenzie kon die uitslag heel anders gewees het.Die Brumbies het vandag met die Sharks gemors en reken ek dit gaan ‘n Crusaders teen Brumbies finaal wees.

Swartwolf ·

Sien ek het “min” geskryf ipv “meeste”. Bedoeling is Jaguares sou al SA SR spanne gelooi het dalk selfs Crusaders. Hulle was baie goed.

kolla ·

Die feit dat die nulle so useless was om tweekeer teen hulle te verloor sè niks.

Swartwolf ·

Ag ou kolla wanneer word jy groot almal kan SIEN die stompies is laaste op die SA log. Almal kan SIEN die bulle is SA se beste span. Almal het gesien hoe die bulle daai weer probeer wonders met 40-3 vermink het op Loftus. Al jou aangeganery deur die bulle te probeer laat sleg lyk en daai verkeuppelde spannetjie van jou na iets te laat lyk is pure verniet. Jy mors net jou selfoon battery en maak jouself en jou span die grap op die bladsye.

Strafdrie ·

Hoogtyd dat nuwe rugbylande die eentonige getjommel wat deesdae opgedis word, deurmekaar krap! Hoop die VSA se span kom ook by, net soos hul sewes-span!

Robert ·

En wat was die oorsaak dat al die SA spanne dit nie kon maak nie? Volgens al die rugby skrywers was hulle so fantasties!!!!!

Boer ·

Eienaardig ook dat die Australiese spanne aan die begin van die jaar afgeskryf word as van lae gehalte. So asof hulle dankie moet sê dat hulle teen ons speel.

Iewers het ons ‘n wanpersepsie, ‘n misplaaste oorskatting, van ons eie rugbyspanne. Eintlik arrogant van sommige skrywers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.