Jo-Ané spog met goue gooi

Jo-Ané van Dyk het die Afrika-rekord in die spiesgooi-item verbeter. (Foto: X/Team SA)

Suid-Afrika sorg steeds vir podiumplekhoogtepunte by die Afrika-spele in Ghana. Die span het tans 99 medaljes agter sy naam en beklee die derde plek op die amptelike punteleer.

Een van die groot sterre op die atletiekveld is ongetwyfeld Jo-Ané van Dyk.

Die 26-jarige spiesgooier het vroeër vandeesweek met haar gooi van 60,80 m die Spele-rekord verbeter, terwyl spanmaat Jana van Schalkwyk die silwermedalje met haar poging van 57,64 m ingeoes het.

Alan Cumming se hamergooivaardighede het ook tot die medaljepartytjie bygedra.

Hy het met sy openingspoging ʼn puik gooi van 67,05 m behaal om die derde plek op die podium in te neem.

Hoewel Suid-Afrika nie die medaljehoogtes van ʼn paar jaar gelede bereik het nie – in 1999 het die span ʼn ongelooflike 184 medaljes ingeoes – is dit ʼn verbetering op die vertoning van 2019 toe daar 86 medaljes in Marokko bymekaargemaak is.

Dit is die agtste keer dat Suid-Afrika sedert hertoelating in 1995 aan die Afrika-spele deelneem. Die aksie duur tot Saterdag in Accra.

  • Medaljepunteleer:
  1. Egipte: 165 medaljes (92 goud, 40 silwer en 33 brons)
  2. Nigerië: 87 medaljes (32 goud, 23 silwer en 32 brons)
  3. Suid-Afrika: 99 medaljes (29 goud, 31 silwer en 39 brons)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Mens raak seker besonders fiks van piramiedklim en tel ongewone vaardighede op met kameelresies sop die duine.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.