Jonty is steeds ’n superster

Die oomblik toe Jonty Rhodes ’n krieketsuperster geword het. Foto: Facebook.

Dit is die 1992 Wêreldbeker en Pakistan se Inzamam-ul-Haq en Imran Khan is besig om die hersiene Protea-wenteiken maklik in Brisbane te jaag.

Veral Inzamam lyk gevaarlik: Sy 48 van 44 aflewerings hou nie net vir Pakistan op koers nie, dit lyk ook asof hulle die wenlopies op ’n drafstap gaan kry.

Maar in die 31ste boulbeurt misgis Inzamam hom met ’n Brian McMillan-aflewering en hy probeer wegskarrel vir ’n enkellopie. Khan stuur hom terug en voor hy die veiligheid van sy kolfkampie kan bereik, trek ’n vlieënde Jonty Rhodes deur die lug vir krieket se mees ikoniese uithardloopkans.

Dié oomblik het waarskynlik gesorg dat Rhodes in ’n oogwink ’n krieketsuperster word. Tog is dit nie sy gunsteling-krieketoomblik nie, ook nie eens sy vyf vangskote wat hy destyds teen die Wes-Indiese Eilande benut het nie, óf die tóé vinnigste toetshonderdtal vir Suid-Afrika nie…. Dit is eerder sy internasionale buiging in dieselfde Wêreldbekertoernooi wat hy met die grootste glimlag onthou.

“Die 1992 openingswedstryd teen Australië is ongetwyfeld my gunsteling-oomblik in Protea-kleure,” het hy aan Maroela Media gesê.

“Die Aussies was die gasheerland én die verdedigende kampioenspan. Dan was dit ook my eerste wedstryd voor 35 000 toeskouers en ’n paar miljoen televisiekykers! Ons het met nege paaltjies gewen en dit was nie eens nodig dat ek moes kolf nie!”

Rhodes het uiteindelik 52 toetse en 245 eendagwedstryde vir Suid-Afrika gespeel en dit was veral sy veldwerk op punt wat hom kop en skouers bó ander veldwerkers in sy era laat uitstaan het.

Veldwerk was sy passie. Foto: Cricinfo.

“Ek was absoluut mál oor veldwerk. Die feit dat ek ’n paar ander sportsoorte op skool gespeel het (hy was ook ’n kranige hokkiespeler) het my ook baie gehelp. Ek het baie van die vaardighede wat ek in hokkie, sokker en tennis geleer het, op die veld toegepas.”

Die Proteas vertrek binnekort na Engeland waar hulle vir die agtste keer, sedert hul hertoetrede tot die internasionale arena, sal probeer om die Wêreldbeker te lig. Die Suid-Afrikaners se onvermoë om uitklopwedstryde te wen, het gesorg dat die “chokers”-etiket om hul nekke gehang word.

“Totdat die Proteas ’n Wêreldbekertoernooi wen, sal daardie etiket om hulle nekke hang. Ek het in vier wêreldbekers gespeel (1992, 1996, 1999 en in 2003) en dit het nie een keer vir my gevoel asof ons gechoke het nie. Dit is net krieket, en wanneer jy die uitklopwedstryde haal, is elke span gevul met wedstrydwenners.”

Die krieketlandskap het ook verander sedert Rhodes se uittrede in 2003. T20-kragmetins is basies die kitskos van wêreldkrieket: dit is nie baie goed vir jou nie, maar dit is baie gewild en sorg vir hope vermaak.

“Ek is hartseer dat ek as ’n speler die T20-era misgeloop het – die atmosfeer by van die venues is net verbysterend! Maar ek mis beslis nie die feit daar nou glad nie meer ’n afseisoen is waar jy  vir die volgende toer kan voorberei nie!”

Rhodes het die unieke vermoë gehad om krieket met vermaak en klas te kombineer. Wie sy gunsteling-speler in die huidige era?

“Virat Kholi vir die manier waarop hy net sy teenstanders vanuit die kolfkampie oorheers. Ek dink net die legendariese Wes-Indiër, Viv Richards, het ’n soortgelyke windmakerige teenwoordigheid gehad wanneer hy uitgestap het om te kolf. Die opposisie-kaptein weet ook dat die wedstryd eers werklik verby is wanneer hulle terug is in die kleedkamer.”

Saam met sy span in Nepal. Foto: Facebook.

“O ja, dan is daar ook Dale Steyn. Hy boul blitsig, kan die bal swaai en hy is akkuraat – wat is daar nie om te bewonder nie? Hy kan ook binne ’n oogwink van ’n vurige snelbouler na ’n kief ou verander!”

Deesdae is Rhodes steeds besig met krieketdinge, as kommentator en as afrigter. “Ek is nou besig om ’n span in Nepal te mentor en daarna gaan ek Dubai toe om in die Pakistan Superliga kommentaarwerk te doen.”

Vergeet van AB de Villiers, Steyn en Quinton de Kock: Jonty Rhodes was Suid-Afrika se eerste krieketsuperster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanL ·

Word die groot spelers voor isolasie vermy om polities korrek te wees? ‘n Ware veelsydige speler soos Mike Proctor was ‘n legende by Gloucestershire – soveel so dat die mense na Proctorshire verwys het.

Dink TV en die wye dekking van Jonty se duikslag het hom natuurlik bevoordeel. Maar Proctor was definitief ‘n beter krieketspeler.

Veritas ·

JohanL, ek stem saam met jou. Jonty was ‘n puik kolwer en ongewenaard as veldwerker maar Mike Proctor was die mees afgeronde veelsydige krieketspeler. Al het hy glo van die verkeerde voet af, geboul.

Valerie ·

So ietwat oordrewe ophemeling, en so tiperend van Suid Afrikaners.
Niks besonders, glo my.

Anoniem ·

Gee eerder ‘n paar hekel wenke, sport is nie jou sterkpunt nie.

JohanL ·

Valerie, Valerie, ek wou skryf “Skoenmaker hou jou by jou lees”, maar ek gaan nie.

Kom ons gee jou dan kans om iets positiefs te skryf. Wie sou jy reken as Jonty wel niks besonders was nie, kom ten minste met ‘n positiewe reaksie en gee jou opinie asb. Wat van twee name met redes? Ek is nuuskierig verby.

Gemaskerde Sopbeen ·

Nou gaan ek my ouderdom weggee….my heel eerste krieketwedstryd by Wanderers was daar ‘n kolwer, Vincent van der Bijl, en ek het gestaan en kyk hoe hy ‘n ses slaan tot in die parker-area langs die stadion!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.