Kaartjies nog beskikbaar vir Kaapse CrossFit-draai

Katrin Davidsdottir sal die kyk werd wees in die Kaap. Foto: CrossFit se amptelike webblad.

Die lekker van CrossFit is dat jy nooit weet wat om te verwag nie – nie eens die deelnemers weet watter fiksheidstruuks hulle moet doen nie.

So as húlle nie weet nie, watter adrenalienaksie wag daar dan nie op die toeskouers nie!

Met topatlete soos Jason Smith en Katrin Davidsdottir die week in Kaapstad vir die Fittest in Cape Town-kompetisie, kan die fiksheidskwik letterlik in die Moederstad styg.

Die kompetisie begin Donderdag (31 Januarie) en kom Saterdag (2 Februarie) tot ’n einde.

Donderdag se aksie is gratis by Cliftonstrand te siene, terwyl jy vir Vrydag en Saterdag se aksie tot R300 by die Groenpunt‑atletiekstadion moet opdok.

Ysland se Davidsdottir is waarskynlik die groot trekpleister. Sy het die CrossFit Spele reeds twee keer (in onderskeidelik 2015 en 2016) gewen en is die gunsteling om ook met die Kaapse louere weg te stap.

Ander vroue wat goed kan presteer, is Allessandra Pichelli (sy was al ses keer by die Spele) en Mia Akerlund. Sy het onlangs in Dubai 104 kg bo haar kop opgetel (snatch-beweging).

In die mansafdeling is Smith basies die gesig van CrossFit in Suid-Afrika. Hy was in 2017 tiende by die CrossFit Spele in Wisconsin. Hy sal egter kwaai teenstand van Cole Sager (sewende by die 2018 Spele) en James Newbury kry.

Kaartjies is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.