Kenners dink All Blacks se doppie is geklink

Die All Blacks is gewond, maar hulle kan met mening terug wees in 2019. Foto: Facebook.

Die Springbokke en die All Blacks sal oor net meer as agt maande slaags wees in hul openingswedstryd van die Wêreldbeker in Japan. Maar met die Kiwi’s wat verlede jaar éérs teen die einste Bokke en tóé teen die Iere in hul Europese toer vasgeval het, lyk hulle nie meer so onstuitbaar soos altyd nie.

Al het die All Blacks 12 van hul 14 kragmetings, die Rugbykampioenskap vir die vierde agtereenvolgende jaar en die Bledisloe-beker vir ’n ongelooflike 16de keer (agtereenvolgens) gewen, lyk hulle beslis kwesbaar.

Veral die manier waarop die Iere hulle ore aangesit het – en dit het nie gelyk of Joe Schmidt se troepe gehóóp het om te wen nie – moes die res van die wêreld se rugbyspanne laat regop sit het. Die Iere het soos die beter span op die veld gelyk, om dinge in plein Afrikaans te stel.

Tog – wanneer jy na die geskiedenisboeke kyk – bly hulle die Springbokke se tiere. In amper 100 wedstryde tussen die twee lande, het die Kiwi’s 58 toetse gewen en die Bokke 36. In die proses het hulle so te sê 500 punte meer as die Suid-Afrikaners aangeteken.

Die vreugde op en langs die veld kon nie groter gewees het nadat die All Blacks getroef is nie. (Foto: Twitter @IrishRugby)

Hier is wat die Nieu-Seelandse én internasionale kenners van die All Blacks te sê het.

• Alistair Stokes van rugbymagazine.com: “Die tradisionele, amperse onaantasbare, aura wat om die All Blacks gehang het, is geleidelik besig om weg te kwyn. Met Ierland, Engeland en Suid-Afrika se vertonings teen die wêreld se topspan in die afgelope vier maande,

is dit duidelik dat dié bloedhonde besig is om Kiwi-bloed te ruik.”

• Oud-All Black Nick Evans ná die kragmeting teen Engeland wat die All Blacks net-net met 16-15 gewen het: “Die Engelse het gewys dat die All Blacks se teenstanders besig is om uit te werk presies wáár om die Kiwi’s se drukkoker die meeste te stook.”

• Nóg ’n oud-speler, Craig Dowd, het dié te sê gehad: “Dit is duidelik dat die gaping nie meer te groot is tussen Nieu-Seeland en die res van die wêreld nie. Op die oomblik is daar ampers iets mensliks rondom die All Blacks se spel en hulle is ietwat van ’n gewonde dier.”

• Joel Kulasingham van die New Zealand Herald: “Die All Blacks was goed opgedons teen die Iere en dié nederlaag voel net anders. Die winter is op pad en (Steve) Hansen begin seker al koud te kry.”

Die Springbokke speel op 21 September teen die All Blacks in Japan. Die wedstryd sal om 11:45 (SA-tyd) afskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

wilhelm ·

Kwotas het Safrika se rugby verwoes en sal nooit weer regtig met die groot honne kan saam hardloop nie.Om die All Blacks te onderskat is fataal.Hulle gaan die grote volgende jaar weer wen.

ChrisE ·

Dit neem nie ‘n breinchirurg om die All Blacks se rugby strategie uit te werk en te neutraliseer nie. Alhoewel die spel se reels en “strategië” verander het, is die basiese beginsel so oud soos die spel self. Geen span kan drieë druk sonder die bal nie. Geen span (voorspelers) hou daarvan om terug gedruk word in ‘n skrum nie. Geen agterspeler hou daarvan om met bal en al in die grond in geboor te word nie. Geen span hou daarvan as jou teenstanders heeltyd in jou “gesig” is nie. Geen span hou daarvan as hulle geboelie word nie. Die All Blacks is nie volgens my ‘n uitsonderlike span nie. Dit is tand aan die gang. Die ander spanne is besig om soos hulle te begin speel en dieselfde taktiek te gebruik. Gee die All Blacks hul eer, hulle is “slim” spelers in die sin van vertolking/interpretasie/buig van die reels om sodoende die skeidsregters te beinvloed. Eerstens speel jy die man, die skeidsregter en dan die skare.

Spark Plug ·

Ons behoort nie die 2de ronte te haal in die wereld beker nie…ons gaan vroeg huistoe kom te danke aan transformasie wat afgedwing word

Derick ·

Nou staan die ANC kwota bokke n kans om die WC te wen? Glo nie. Hulle moet eers by Japan, Ierland, Wallis en die All Blacks verbykom. O ja en dan is daar nog Argentinia ook. Almal spanne wat die ANC bokke gewen het.
So as ek moet kies tussen die AB en die ANC bokke vir die WC, sit ek my geld op die AB.

All Black ·

Ek weet dagga is vrylik beskikbaar maar sekere “kenners” moet ligloop vir die twakkies. Die All Black speel die game sonder politieke inmenging. Die sogenaamde kenners kraak die All Blacks af om die bokke beter te laat lyk en voel. My raad aan die sogenaamde “kenners”. As jy rook moet nie probeer dink en praat nie.
Jepetto—Selfs Pinocciou weet dat dit vat nie ‘n siener om te voorspel dat die ou vaal bokkies vinnig gaan uitval nie. Kry eerder “Call a Friend” se nommer as jy huilerig is.

nico k ·

Natuurlik bly die All Blcks die gunsteling. Niemand stry daarteen nie. Maar dit is minstens nie 100% seker dat hulle gaan wen nie. En dit hou dinge interessant. En SA het ‘n goeie span en kan goed doen. ‘n Rugbybal is nie rond nie en enige iets kan gebeur op ‘n spesifieke dag. Beide ons vertonings teen NZ was uitstekend en as ons so speel gaan ons ver kom. Ek heg nie veel waarde aan die einde van die jaar vertonings nie. Ons doen altyd swak in daai wedstryde.

Frans C ·

Die All Blacks gaan deur ‘n vernuwingsfase.Hul Superrugbyspanne het bewys dat daar
genoeg talent is om hul nog lank mededingend te hou.Dieselfde kan nie van die Noordelike halfrond spanne gesê word nie,want hul plaaslike kompetisies wemel van buitelandse spelers en min plaaslike talent kom na vore om die te vervang.

Solank die Bokke deur kwotas gekniehalter word sal die span sukkel om sy man te staan
teen spanne wat nie onderworpe aan sulke maatreëls is nie.

Willco ·

Steve Hansen en sy afrigtingspan is nie dom nie. Die jaareindtoer het vir hulle ‘n goeie aanduiding gegee wat in die wêrelbeker wag en dat hulle natuurlik met ‘n nuwe masterplan vorendag sal kom. So moet nooit die All Blacks sommer alweer afskryf nie.

alwyn burger ·

Die een wat voor is ,is geneig om sy plek te verloor. Gevorderde studente in Geskiedenis noem dit” Die wet van die Remmende Voorsprong”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.