Die grootste wedstryd in Kevin Anderson se tennisloopbaan het toe Sondagaand in teleurstelling geëindig.
Die oorweldigende gunsteling en eerste gekeurde om die Amerikaanse Ope se mans-enkelspeltitel te wen, Rafael Nadal, het in ʼn haas volmaakte vertoning met 6-3, 6-3, 6-4 in twee uur 27 minute teen Anderson gewen.
Nadal het baie diep op die kragtige afslane van Anderson gestaan en deurentyd gepoog om die Suid-Afrikaner met lang houe-wisseling te frustreer en daardeur vorentoe te lok. Hy het ook sy rughandhoue gesny om Anderson se kragspel te neutraliseer.
Hy het dit dan uitgebuit met Anderson wat sodoende die baan oopgelaat het.
Die groot Suid-Afrikaner, wat in sy eerste Grand Slam-finaal gespeel het, was 28ste vir die toernooi gekeur. Hy het sowat R23 miljoen met sy tweede plek verdien.
Dit was die 31-jarige Spanjaard se derde Ope-titel en hy het daarmee sy Grand Slam-titels na 16 opgeskuif – net drie minder as Roger Federer se 19.
♦ Dit was ʼn kliniese vertoning teen die Suid-Afrikaner wat nooit gaan lê het nie, maar ook nooit in die wenprentjie was nie.
Anderson het nie ʼn enkele breekpunt op Nadal se afslaan gehad nie; hy het net ʼn enkele keer meer as twee punte op enige afslaanpot van Nadal gekry, en dít was toe Nadal vir die wedstryd afgeslaan het; en Nadal was boonop op sy heel beste en het net 11 ongedwonge foute gemaak en 30 wenners gespeel.
Anderson kon eenvoudig nie die Spanjaard se afslaan baasraak nie. Nadal het net 15 punte op sy eie afslaan afgestaan.
Met die oorwinning het Nadal hom aangesluit by die vyf grotes van die Amerikaanse Ope wat hierdie titel al drie keer of meer gewen het: Roger Federer, Pete Sampras en Jimmy Connors (elk vyf titels); John McEnroe (vier) en Ivan Lendl (drie).
Steeds goed gedoen. Mooi Kevin.
Ek is jammer, maar ek dink hierdie artikel se titel asook hoe dit geskryf is, is swak. Hoekom nie Anderson se ongelooflike vertoning van ‘n tweede plek in ‘n Grand Slam geleentheid vier nie! Genade, hy’t 17 plekke op die wêreld se ranglys opgeskuif! Hy’t immers teen DIE Nadal gespeel….en tog tweede geëindig! Ongelooflik! Go Anderson, jy maak ons TROTS!
Ek stem saam! Dit is ‘n massiewe groot prestasie en geen teleurstelling nie! BAIE GELUK Kevin!
Ja nee Maroela verander jul opskrif!! Alida het seker nog nooit in haar lewe tennis gespeel nie. Dit is ‘n ongelooflike prestasie wat hy behaal het!!
Ek dink die verslag en opskrif is ‘n goeie weergawe van die realiteit dat Nadal net te goed was. Kevin het merkwaardig goed gedoen ten spyte van al die beserings wat hy moes van herstel en SA kan opreg trots wees op hom.
Hy get darem 2de geeindig. Welgedaan
R23 miljoen vir tweede plek – not bad!
Die “bookies” sou nooit toegelaat het dat Kevin gewen het nie. Hulle ‘boekies’ was reeds sleg deurmekaar gekrap met Del Potro wat tot die halfeindrondte deurgedring het. Die plan was dat Federer en Nadal die eindstryd teen mekaar sou uitwoeker.
Weddery onder die meeste sportsoorte, nie alleen net rugby, sokker, krieket nie, maar ook tennis is algemeen en die geld wat hande verruil, is nie min nie!
Trots op jou.