Kopdokter sê Bokke op pad na kruin van hul golf

Die verhouding tussen Jake White (middel) en John Smit (regs) het wondere vir die Sprinbokke in 2007 beteken. Dan was daar natuurlik oor Bryan Habana se X-faktor. Foto: Facebook.

Dis die eindstryd van die 2007-Rugbywêreldbeker in Frankryk en die Springbokke se Fourie du Preez het pas ná 80 spelminute die bal oor die kantlyn gestuur.

Die eindfluitjie blaas kort daarna en Suid-Afrika lig welverdiend vir die tweede keer die William Webb Ellis-trofee ná die span Engeland 15-6 op dié Paryse aand geklop het.

Tussen die seëvierende afrigterskorps, toeskouers en ondersteuners is dr. Henning Gericke, die Bokke se kopdokter. ’n Man wat waarskynlik net soveel vir John Smit en sy manne se emosionele krag, as Jake White en kie vir hul wedstrydgereedheid, beteken het.

“Die 2007-Springbokspan was op die kruin van die golf, maar ek dink die huidige span van Rassie Erasmus is beslis op koers na die bopunt van die golf,” het Gericke aan Maroela Media gesê.

Vir enige span om goed tydens ’n groot toernooi te vaar, is dit noodsaaklik dat die senior spelers hul hande opsteek. ’n Span kan as’t ware nie op een individu staatmaak om hul koppe sterk te hou nie; daar moet ’n kern van senior spelers wees wat help om die esprit de corps-vlam aan die gang te hou.

“In 2007 het John Smit se leierskap, Percy Montgomery se senuwees van staal (hy het nie ’n enkele stelskop in die kwarteindstryd, halfeindstryd én eindstryd gemis nie), Bryan Habana se X-faktor, Juan Smith se werkverrigting, Os du Randt se rustigheid en Fourie du Preez se taktiese briljantheid ons baie gehelp.”

Dr. Henning Gericke het ’n sleutelrol in die Bokke se wêreldbekersukses gespeel. Foto: Facebook.

Gericke sonder huidige Bokke soos Duane Vermeulen, Faf de Klerk, Malcolm Marx en Handré Pollard uit om soortgelyke rolle in die komende toernooi te vervul.

“Ek dink die Bokke het geestelik sterker onder Rassie se leiding geword. Daar is egter nog min tyd voor die wêreldbeker; ’n ekstra jaar voorbereiding sou wondere verrig het.”

Baie is daaroor gesê dat Jake White se Bokspan in 2007 nie teen Nieu-Seeland of Australië gespeel het nie, maar daar moet onthou word dat Suid-Afrika in daardie jaar twéé spanne (die Bulls en die Sharks) in die eindstryd van die Superrugbyreeks gehad het.

’n Faktor wat, volgens Gericke, wondere vir John Smit en kie se selfvertroue beteken het.

“Die kern van die span het geweet hoe om die groot en belangrike wedstryde te wen. En dit was nie slégs die groot kragmetings nie, maar ook die wedstryde wat op ’n mespunt gebalanseer was,” sê Gericke.

Dit is immers hoe ’n speler in daardie drukkokersituasie reageer wat deurslaggewend in ’n wedstryd  is: dink aan Joel Stransky en Jonny Wilkinson se skepdoele in vorige eindstryde.

“Dit is baie goed dat die Bokke vir die All Blacks op Wellington (36-34) getroef het, want dit het gewys ons kan close wedstryde ook wen. Ons moes net nie daardie voorsprong kort daarna op Loftus Versfeld teen die einste Kiwi’s weggesmyt het nie.

“Die span kan wel in die komende maande nog baie groei. Ek dink net dit sal in belang van die Springbokke wees as ’n paar van ons Superrugbyspanne óók ’n paar drukkoker-wedstryde wen.”

En weer eens: om druksituasies sterk te hanteer, móét senior spelers die res van die span deur hul voorbeelde lei.

In 2007 het Gericke ’n lys van 10 faktore saamgestel ná hy al die vorige wêreldbekers bestudeer het. ’n Bloudruk om die trofee te wen, as jy wil.

Soos reeds genoem, moet die topspelers hul spelpeil na die volgende vlak neem, maar dan moet die verhouding tussen die kaptein en afrigter ook baie gesond wees.

“Kyk net na Richie McCaw en Graham Henry, Francois Pienaar en Kitch Christie, sir Clive Woodward en Martin Johnson. Dan moet ’n span nie té vroeg in die toernooi reeds op alle silinders vuur nie – iets wat wel moeilik is omdat ons reeds in die eerste wedstryd teen die All Blacks speel. Maar jy het ses weke om die toernooi te wen, jy het dus tyd om na die kruin van die golf op te bou.”

“Jy moet kopsterk wees om die wêreldbeker te wen. En ek glo ons het ook in 2019 ’n sielkundige plan gereed.”

  • Buiten sy werk met die Springbokke en die Proteas is Gericke ook ’n suksesvolle skrywer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Hehehe…ou Jake het darem nie n kwota verpligting gehad om hom slapelose nate te gee nie, of hoe? Of speel ek met oom Gericke se kop nou?

Realis ·

“Our people ” se span kan maar droom. Die All Blacks sal sommer in die eerste wedstryd wys hoe ver die Bokke agter is by ander spanne in die rugbywereld. Onthou wat Japan en Italie met hulle gedoen het!

ACJ ·

Wat bedoel jy met our people se span.Dis SA se se span of jy daarvan hou of nie dis jou probleem en nie “our peoples problem”

JohanL ·

Hoe graag ek ookal wil dink dat die Bokke ‘n kans het, moet ek ongelukkig erken dat ons kans bitter klein is (nie nul nie, maar klein).

Ons geskiedenis op SuperRugby vlak en internasionale vlak lyk nie goed teen NS spanne nie en dit is juis op sielkundige vlak. (Gaan nie vir die hoeveelste keer uitbrei hoekom dit so is nie). So hoe hard Dr Gericke (en ek het baie respek vir hom) ookal werk, dink ek diep, diep in die spelers se gedagtes weet hulle dit gaan moeilik wees – dalk nie onmoontlik nie. Die oorwinning in Wellington en die eerste 60 minute op Loftus wys dat die Bokke die All Blacks kan troef. Maar ongelukkig dink ek ons gaan uit 10 wedstryde teen die All Blacks hulle dalk 3 keer wen.

So ja ons kan die All Blacks wen, maar die kans gegewe veral hul sielkundige houvas op ons, is klein.

Ons hoop is om die perfekte openingswedstryd te speel, die AB’s te wen, en dan te hoop dat die AB’s in die kwarteind of halfeind sal vasval, teen ‘n Engeland of Ierland wat sterk opwaartse kurwes toon.

Maar ek gaan net terugsit sonder enige verwagtinge en die Wereldbeker geniet.

Gollie ·

JohanL Ek stem met jou ek gaan ook net terugsit en kyk wat gebeur.

Jepetto ·

Ag tog hier gaan ons alweer met al die ou pesiemiste en draad sitters Laat ek vandag a stelling maak SA rugby staan sterk . Springbok rugby was nog altyd en is nog altyd baie sterk en kompeteerend Die van julle wat altyd a negatiewe eier te le het is beslis nie deel van ons DEMOKRASIE NIE .En ook nie van ons droome nie Julle is mos sienners kan in die toekoms inkyk EK sal met trots die Springbokke ondersteen in 2019 WB

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.