Koronavirus beïnvloed wêreldsport

Die Olimpiese Spele in Japan sal volgens organiseerders nie gekanselleer word nie.. (AP Photo/Jae C. Hong)

Die organiseringskomitee van die Olimpiese Spele in Tokio hou voet by stuk dat dié wêreldskouspel nie weens die koronavirus ontspoor sal word nie.

Maroela Media het vroeër berig dat gister die dodelikste dag nóg was wat die virus betref, met 242 mense wat in een enkele dag weens die virus omgekom het. Nog sowat 14 840 mense is ook intussen met die virus gediagnoseer. Die dodetal staan nou op meer as 1 350, met byna 60 000 bevestigde gevalle.

Maar Yoshiro Mori, die voorsitter van die organiseringskomitee, was egter in ’n veglustige bui ten spyte van die wêreldwye gesondheidskrisis.

“Ons oorweeg dit hoegenaamd nie om die Spele te kanselleer of uit te stel nie. Dit is iets waaroor ons baie sterk voel,” het hy gesê.

Asië se twee sewestoernooie kan egter in die slag bly. Foto: GB Jordaan

Suid-Afrika sal ook ’n groterige span na die Spele stuur, waaronder die wêreld se derde voorste branderplankryer, Jordy Smith, en die Blitsbokke.

Daar is egter minder goeie nuus vir ander sportsoorte.

Die gewilde Sjanghai F1-wedren is uitgestel, terwyl twee sewestoernooie ook in die slag kan bly.

Die wedren, wat op 19 April sou plaasgevind het, is een van die belangrikste byeenkomste op die F1-kalender, tog het dié sport se wêreldbeheerliggaam gevoel dat dit nog té gevaarlik is om dit aan te bied.

“Weens die toenemende gesondheidsrisiko’s, tesame met die feit dat die Wêreldgesondheidsorganisasie die koronavirus as ’n wêreldwye gesondheidsnoodtoestand verklaar het, het ons besluit om die wedren uit te stel,” is in ’n verklaring gesê.

Volgens mediaberigte kan die Singapoer- én Hongkong-sewestoernooie óók weens die virus uitgestel word.

Die twee toernooie word in April aangebied en die organiseerders kan dit moontlik na Oktober uitstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Die spul dink net aan die geld wat hulle mootlik kan veloor en nie aan die menselewens nie. Patete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.