Krieket: Mzansi se eerste kampioen dié week gekroon

Reeza Hendricks is een van die plaaslike sterre in die Mzansi-reeks. Hy speel vir die Jozi Stars.. Foto: Facebook.

Suid-Afrika sal Sondag weet wie die eerste Mzansi Superliga se kroon dra. Nie net sal die wenspan en die speler van die reeks gekroon word nie, maar die reeks se beste kolwer, bouler en veldwerker sal ook uitgewys kan word. Ná die verwagte afskop van die reeks verlede jaar in ʼn laat stadium gekanselleer is, het sake vanjaar heel goed verloop met die eerste uitgawe van die Mzansi Superliga.

Die reeks is oor vier weke beslis en ses spanne (wat saamgestel is uit plaaslike en oorsese spelers) het sake in 32 wedstryde uitgespook. Elke span het twee keer teen elk van die ander spanne gespeel vir ʼn totaal van 10 wedstryde in die rondomtalie fase.

Vrydagaand sal die kwalifiseringswedstryd tussen die Jozi Stars (2) en Paarl Rocks op die Wanderers in Johannesburg gespeel word. Die wenner sal Sondag op Nuweland in die eindstryd teen die Cape Town Blitz te staan kom.

Albie Morkel ontvang sy speler-van-die-wedstryd-toekenning ná sy pragbeurt teen die Tshwane Spartans Woensdagaand. Foto: Facebook.

Die hoogste beurttelling deur ʼn span is eers in die laaste week van die toernooi behaal. Die Jozi Stars het ʼn allemintige 239/3 (11.95 lopies per boulbeurt) in slegs 20 boulbeurte teen die Tshwane Spartans (138) gemoker.

Tydens bogenoemde wedstryd het Nono Pongolo 6 paaltjies vir 20 lopies platgetrek, wat nie net die beste in die reeks is nie, maar ook die tweede beste boulsyfers ooit in T20-krieket se geskiedenis is. Quinton de Kock en Reeza Hendricks spog elkeen met 108 lopies in ʼn enkele kolfbeurt.

Een aspek wat verblydend is, is die geleentheid wat minder bekende en selfs nuwelinge gekry het om hul staal te toon. Hier vang veral die naam van Nono Pongolo met die bal die oog.

Op die finale punteleer het die Cape Town Blitz eerste geëindig.
1 Cape Town Blitz 30
2 Jozi Stars 29
3 Paarl Rocks 22
4 Nelson Mandela Bay Giants 21
5 Tshwane Spartans 16
6 Durban Heat 14

Die kampioenspan sal R7 miljoen verdien en die naaswenners R2,5 miljoen. Die speler van die reeks steek R100 000 in sy sak.

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.espncricinfo.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gerda ·

Miskien as jy gekyk het, sou jy besef het dit was nie ‘n flop nie.
Ek het elke wedstryd gekyk wat ek kon. Ek het ook drie wedstryde by die stadions gaan kyk. Dit was baie lekker. En dit was oor die algemeen goeie krieket. Ek sien baie uit na die laaste twee wedstryde hierdie naweek.

Anoniem ·

Die opskrif is verkeerd. Dit behoort te lees: Krieket SA se Klug Kampioen word die week gekroon.

JJ du Toit ·

En vir die eerste keer “perform” AB toe darem gisteraand nadat sy span reeds uitgeskop is. Hy sal weer “perform”, as die IPL met die GROOT geld plaasvind. AB wil nie vir die min-betalende spannetjies sois SA speel nie….. net die groot geld spanne

JJK ·

EN niks fout daarmee nie. Jy werk ook tog waar jy die meeste geld kan verdien.

kolla ·

Opskrif is nie korrek nie. Nie dié week nie, volgende week. Eerskomende Sondag is die eerste dag van volgende week.

Nee kolla ·

Kolla dit is DIE week…. sondag… is nog DIE week… Maandag is volgende week!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.