Krieket: Suid-Afrika beklink die eendagreeks teen Australië

Quinton de Kock. Foto: Krieket SA/ANA

Die Proteas het Sondag in Hobart in die derde en laaste eendagwedstryd teen Australië gespeel en met 40 lopies gewen. Faf du Plessis en David Miller het beide honderdtalle aangeteken. Daarmee het die Proteas die reeks met 2 – 1 ingepalm. Die Proteas het die eerste wedstryd op ʼn drafstap gewen terwyl die Aussies die tweede een met sewe lopies gewen het.

Australië het die loot gewen en Suid-Afrika ingestuur om te kolf. Beide spanne was onveranderd gelaat vir dié kragmeting.

Suid-Afrika het gesukkel om die goeie boulwerk van die Aussies op ʼn lewendige kolfblad baas te raak. Ná 10 boulbeurte het Suid-Afrika slegs 27/2 lopies (2×4 en 1×6) op die telbord gehad. Die Proteas se openingskolwers (Quinton de Kock en Reeza Hendricks) was boonop terug in die kleedkamer. Die Proteas het hul vyftigtal na 13.5 boulbeurt bereik. Met die totaal op 55 het Aiden Markram sy paaltjie vir 32 lopies verloor (1×4 en 3×6 van 42 balle).

Ná 25 boulbeurte het Suid-Afrika 93/3 op die telbord gehad.

Faf du Plessis en David Miller het egter beide honderdtalle behaal en ’n briljante vennootskap van 252 lopies aangeteken. Du Plessis was uit vir 125 (114 balle, 15×4 en 2×6) en David Miller het 139 gemoker (108 balle, 13×4 en 4×6). Suid-Afrika het uiteindelik 320/5 behaal nadat hulle 130 lopies van die laaste 10 boulbeurte gemoker het.

Met die bal het Marcus Stoinis en Mitchell Starc elk twee paaltjies geneem.

Australië se kolwers het ʼn teiken van 321 gejaag en het gou drie paaltjies verloor (39/3). Ná 25 boulbeurte het die Aussies 106/3 op die telbord gehad. Marsh en Stoinis het ʼn vennootskap van 107 behaal voordat Stoinis moes terugstap vir 63 lopies (76 balle, 5×4 en 4×6) toe die totaal op 146 was. Marsh is uitgehaal vir 106 (102 balle, 7×4 en 4×6) met die telling op 226/5 en Carey op vir 42 (41 balle, 1×4 en 1×6) met die telling op 256/6. Die Aussies kon net 280/9 in hul toegelate 50 boulbeurte aanteken wat aan die Proteas ʼn 40‑lopie oorwinning gegee het.

Met die bal het Kagiso Rabada en Dale Steyn het elkeen drie paaltjies vir die Proteas platgetrek.

Die Proteas speel komende Saterdag in ʼn enkele T20-wedstryd teen Australië waarna hulle na Suid-Afrika terugkeer.

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.espncricinfo.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.