10/10 vir Whitehead

Sean Whitehead het tien paaltjies in ’n beurt en 15 paaltjies in die wedstryd geneem. Foto: Twitter via KSA.

Vergeet maar gerus daarvan dat Oudtshoorn ’n “grootvoëlparadys” is. Ná Sean Whitehead se krieketheldedade is dit veel eerder ’n draaiersparadys.

Die 24-jarige bouler het ongetwyfeld vir die Suidwestelike Distrikte vlerke in hul wedstryd teen Oostelikes in dié Wes-Kaapse dorp gegee.

Whitehead, wat Suid-Afrika in 2016 by die o.19-Wêreldbeker verteenwoordig het, het ál tien paaltjies in Oostelikes se tweede kolfbeurt geneem.

Sy ongelooflike boulontleding van 10/36 het gesorg dat die Gautengers vir net 65 uitgeknikker is en SWD het die wedstryd met 120 lopies gewen.

Hy het vyf kolwers skoongeboul of been voor paaltjie betrap, terwyl vier van sy slagoffers deur die veldwerkers uitgevang is. Daarbenewens het hy ook vir Wesley Coulentianos (Oostelikes se kaptein) van sy eie boulwerk uitgevang.

O ja, hy het in die eerste beurt 5/64 geneem om met ’n wedstrydboulontleding van 15/100 te spog, terwyl hy ook 66 lopies in SWD se eerste kolfbeurt geslaan het.

Maar daardie boulontleding van 10/36 is die tweede beste poging in Suid-Afrikaanse krieketgeskiedenis – naas Bert Vogler se 10/26 vir Oostelike Provinsie teen Griekwaland-Wes in 1906.

Whitehead het nou 39 paaltjies in 13 eersterangse wedstryde teen ’n gemiddeld van 25,64 geneem, terwyl hy ook sy lopies teen ’n gemiddeld van 37 geslaan het.

Intussen het nóg ’n draaier, die Titans se Simon Harmer, 7/76 in die Westelike Provinsie se eerste beurt geneem.

Die voormalige Protea-speler, wat homself al vantevore as die “beste wegbreek-bouler ter wêreld” bestempel het, het met ’n uiteindelike wedstrydontleding van 10/225 van die veld gestap.

Die Titans het die wedstryd met ’n beurt en 139 lopies gewen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Baardman ·

Fantasties, gaan speel uit die staanspoor in die buiteland en spaar jouself die frustrasie en politiek van SA krieket

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.