100-tal vir Virat op verjaardag

Virat Kohli het die 49ste honderdtal van sy eendagkrieketloopbaan in ’n Wêreldbeker-wedstryd teen Suid-Afrika gemoker. (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

Virat Kohli het vandag sy 35ste verjaardag met ʼn spoggerige honderdtal teen die Proteas gevier en die Suid-Afrikaners benodig 327 lopies vir ʼn Wêreldbeker-oorwinning op Eden Gardens.

Dit was die topkolwer se 49ste honderdtal van sy eendagkrieketloopbaan; ʼn prestasie wat hom gelyk met die legendariese Sachin Tendulkar plaas.

Suid-Afrika sal sy storie moet ken om die wenlopies op ʼn stadige baanblad te slaan, maar Kohli het die Protea-kolwers presies gewys hoe dinge gedoen moet word.

Hy het eers aan die toestande gewoond geraak nadat Rohit Sharma en Shubman Gill soos twee wegholveldrbande gekolf het, waarna hy geleidelik die versnelpedaal al dieper ingetrap het.

Shreyas Iyer en Surayakumar Yadav het vir die nodige momentum-inspuitings gesorg, terwyl Ravindra Jadeja ook waardevolle lopies teen die einde van die Indiese kolfbeurt aangeteken het.

Marco Jansen, ʼn bouler wat daaraan gewoond is om paaltjies in die kragspelfase van ʼn wedstryd te neem, het vandag gesukkel en die Indiërs het amper 100 lopies van sy boulwerk gemoker.

Keshav Majarah het egter ʼn barshou gespeel en saam met Kagiso Rabada kon hy die lopiekrane vir so ʼn klein rukkie ʼn bietjie stywer toedraai.

Hoewel die baanblad geskik is vir draaiboulwerk, het Tabraiz Shamsi hopeloos te reguit geboul en sy aflewerings het gʼn kolwer gepla wanneer dit verby die beenskutte draai nie.

Die Proteas het weliswaar teen Pakistan gewys dat hulle ʼn telling suksesvol kan jaag en indien Quinton de Kock, Aiden Markram en David Miller dié wa deur die drif trek, sal dit ʼn uitstekende prestasie wees.

  • Opsomming van die telkaart:

Indië 326/5 ná 50 boulbeurte: Virat Kohli 101*, Shreyas Iyer 77 en Keshav Maharaj 1/30.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Quinton de Kock, Temba Bavuma (kaptein), Rassie van der Dussen, Aiden Markram, Heinrich Klaasen, David Miller, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Tabraiz Shamis.

Indië: Rohit Sharma (kaptein), Shubman Gill, Virat Kholi, Shreyas Iyer, KL Rahul, Suryakumar Yadav, Ravindra Jadeja, Mohammed Shami, Jasprit Bumrah, Kuldeep Yadav en Mohammed Siraj.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.