4 op ’n ry vir Campher!

Curtis Campher vier een van sy paaltjies. Foto: Twitter.

Ierland se Curtis Campher het slegs die derde bouler geword om vier paaltjies van vier aflewerings in ’n internasionale T20-wedstryd te neem.

Die 22-jarige veelsydige speler, wat in Johannesburg gebore is en vir die nasionale o.19-span gespeel het, het 12 lopies van sy eerste boulbeurt teen die Nederlandse kolwers afgestaan.

Maar in sy tweede boulbeurt het hy omtrent verwoesting gesaai om van Colin Ackermann, Ryan ten Doeschate, Scott Edwards en Roelof van der Merwe ontslae te raak.

Boonop is drie van sy slagoffers – Ackermann, Ten Doeschate en Van der Merwe – ook in Suid-Afrika gebore.

Afghanistan se Rashid Khan en Sri Lanka se Lasith Malinga is die enigste ander boulers wat met ’n soortgelyke prestasie op die internasionale verhoog kan spog.

Nederland is uiteindelik vir 106 lopies uitgeknikker en die Iere is goed op dreef om die teiken in te haal.

  • Ander boulers wat vier paaltjies van vier agtereenvolgende aflewerings geneem het:

Rashid Khan (2019 teen Ierland): Sy slagoffers was Kevin O’Brien, George Dockrell, Shane Getkate en Simi Singh.

Lasith Malinga (2019 teen Nieu-Seeland): Hy het van Colin Munro, Hamish Rutherford, Colin de Grandhomme en Ross Taylor ontslae geraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tubac ·

Ons gaan nog baie spyt wees oor die talent wat die land verlaat om n ander heenkome te vind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.