Aanvangsrekord spat toe Proteas Bangladesj kasty

Quinton de Kock – ʼn skitterende 168* en ʼn rekord-aanvangsvennootskap met Hashim Amla (Foto: Cricket South Africa, Facebook)

Dit was toe niks meer as ʼn drafstap nie. Quinton de Kock het sy broodnodige kolfkans gekry, AB de Villiers het nié en daar is steeds tekens van sy skouerbesering, en Bangladesj is net eenvoudig nie opgewasse nie.

Die Proteas het Sondag in die eerste eendagwedstryd in Kimberley Bangladesj se telling van 278/7 met die grootste gemak in 42.5 boulbeurte en met al tien paaltjies staande verbygesteek.

Dit was die besoekers se hoogste eendagtelling teen Suid-Afrika.

♦  De Villiers se skouer wek kommer. Hy was nooit van die veld af nie, maar het ʼn hele paar keer aan sy skouer gevat wat hom al baie lank las gee. Oor 11 weke moet hy toetskrieket speel, en ʼn mens wonder in welke mate hy toetsgereed sal wees.

♦  De Kock het ʼn skitterende onoorwonne 168 lopies in 145 balle aangeteken. Sy honderdtal het in presies 100 balle gekom en hy het op die ou end twee sesse en 21 viere geslaan.

Amla het sy onoorwonne 110 in 112 balle aangeteken met agt viere. Hy het sy 26ste eendaagse honderdtal in 99 balle bereik nadat hy op 94 ʼn  vang-en-boul-kans aan Taskin Ahmed gebied het.

Amla was sy rustige self met die bekende gewrigshoutjies aan die bykant, goeie dryfhoue na veral die bykant, daardie goedgeplaaste drukhoutjies na derdeman en sy gebruiklike kaphou-straf van die wye en kort balle aan die wegkant.

Hoewel De Kock met sy aggressiewe kolfwerk en algehele oorheersing van die boulers die opwinding verskaf het, het Amla se oënskynlik rustige honderdtal vinniger, in 99 balle teenoor De Kock se 100 balle, gekom!

De Kock het met die telling op 272 die wenlopies met ʼn ses probeer slaan, maar is op die grens laat val. Benewens die twee kanse het dit nie gelyk of enige van die twee uitgehaal sou word nie.

♦  Die ononderbroke aanvangsvennootskap is die beste van Suid-Afrika teen enige krieketland en oortref die vorige beste van 247. Dit was die vierde keer dat hierdie twee aanvangskolwers ʼn vennootskap van meer as 100 daargestel het.

♦  Die wedstryd is op ʼn hondmak kolfblad van die Diamantovaal in Kimberley gespeel. Die nege kolwers van Bangladesj wat kolfkans gekry het, het almal dubbelsyfers behaal, maar hulle lopietempo was deurgaans te stadig teen ʼn sterk kolfspan soos die Proteas.

Die hoogtepunt van die beurt was die eerste honderdtal van ʼn Bangladesji teen Suid-Afrika. Mushfiqur Rahim het ʼn baie goeie onoorwonne 110 in 116 balle met twee sesse en 11 viere aangeteken en deurgaans in beheer gelyk.

Suid-Afrika se boulwerk was so-so. Kagiso Rabada was met 4/43 die beste, maar nie op sy venynigste nie; Dane Paterson, wat bo Wayne Parnell ingesluit is, het in sy nege boulbeurte 69 lopies afgestaan, en selfs Imran Tahir kon net een paaltjie (1/45) neem. Dwayne Pretorius het die ander twee paaltjies platgetrek en 2/48 in sy tien beurte geneem.

Die tweede eendaagse wedstryd word Woensdag (10:00) op Bolandpark in die Paarl gespeel.

♦  Vir die telkaart en volledige statistieke, klik op http://www.espncricinfo.com/series/10904/game/1075504/South-Africa-vs-Bangladesh-1st-ODI-bangladesh-in-south-africa-odi-series/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

henk ·

Ek hoop van harte nie dat die Proteas hulself teen hierdie skolespan meet nie!! Inteendeel, ek dink die onder 19 SA skolespan sal beter kompetisie wees

alwyn burger ·

Henk is reg. ñ Gesamentlike span van George en Mosselbaai sou ook maklik kon wen. Dit is n futiele, nee, ñ absurde oefening.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.