AB besing Proteas se lof

AB de Villiers in aksie vir die Proteas. Foto: Gianluigi Guercia/AFP.

In sy speeldae kon AB de Villiers hom so te sê by enige situasie op die veld aanpas: Hy kon ’n blitsige eendagkrieket-honderdtal teen die Wes-Indiese Eilande op die Wanderers moker, of hy kon verbete walgooi, soos wat sy 33 lopies vanaf 220 aflewerings teen Australië in Adelaide getuig.

En ná die Proteas se merkwaardige ommeswaai in die toetsreeks teen Nieu-Seeland – waar hulle ’n gelykop uitslag afgedwing het ná ’n lelike pak slae in die eerste toets – is die oudkaptein in sy noppies met die Suid-Afrikaners se terugvegvermoë.

Nadat kommentators en kenners die Proteas se onlangse vertonings met die wilgerlat betreur het, het Sarel Erwee en Kyle Verreynne sommer in dieselfde toets honderdtalle geslaan.

Erwee se 108 het gesorg dat die Suid-Afrikaners darem weer vir ’n slag meer as 300 lopies in sy eerste beurt kon aanteken, waarna Verreynne se onoorwonne 136 baie tot die uiteindelike Kiwi-uitklophou bygedra het.

“Ons Proteas gee nie sommer tou op nie. Welgedaan, ouens. Sarel Erwee en Kyle Verreynne se eerste toetshonderdtalle is welverdiend; daar is min dinge wat (vir ’n kolwer) beter smaak,” het De Villiers getwiet.

Kagiso Rabada. Foto: Twitter via IKR.

Kagiso Rabada is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys nadat hy 5/60 in die Swartpette se eerste kolfbeurt geneem het en vir Verreynne goed met sy blitsige 47 lopies ondersteun het.

In die Kiwi’s se laaste kolfbeurt het hy weer eens van hul openingskolwers ontslae geraak, terwyl hy met sy vurige vertoning beïndruk het.

“Kagiso het ons net weer aan sy vermoë met die kolf en bal herinner,” het De Villiers gesê.

Vir ’n span om ’n toets met 198 lopies te wen nadat hy skaars ’n paar dae vantevore met ’n beurt en 276 lopies verneder is, getuig van veerkragtigheid.

En een van veerkragtigheid se hoofbestanddele is ongetwyfeld goeie leierskap.

De Villiers meen dat ’n mens die leierskapinvloed van Elgar en Mark Boucher maklik kan raaksien.

Dean Elgar. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die Proteas onder Elgar se leierskap is beslis ’n perd van ’n ander kleur – rateltaai en gereed vir enige tweestryd.

Dan was Boucher die bulterriër van die Suid-Afrikaanse krieketspan wat tot die heel laaste aflewering van die wedstryd geveg het.

Hy het destyds die wenlopies geslaan toe die Proteas meer as 400 lopies in ’n eendagwedstryd teen Australië op die Wanderers moes jaag, terwyl hy as ’n internasionale groentjie ’n rekordvennootskap van 195 lopies om die negende paaltjie met Pat Symcox teen Pakistan geniet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Tot hy die knie gebuig het toe verloor hy my respek!

N

Gaaaapp! Wie gee om?