AB en Virat kies hul bestes

AB de Villiers en Virat Kohli. Foto: Twitter.

AB de Villiers en Virat Kohli het op Instagram Live hul gekombineerde Protea/Indië-eendagkrieketspan vanuit dié twee lande se bestes gekies.

Daar is egter net vier Suid-Afrikaners in die span, terwyl daar glad nie plek vir Quinton de Kock of Graeme Smith in die groep is nie.

De Kock het op 21-jarige ouderdom ’n rits agtereenvolgende honderdtalle teen die Indiërs geslaan, terwyl Smith in 2005 ’n briljante 134 lopies aangeteken het om die wedstryd vir die Proteas op Eden Gardens te beklink.

Sachin Tendulkar is saam met Rohit Sharma die openingskolwers, terwyl MS Dhoni die paaltjiewagterhandskoene dra en die span aanvoer.

Die De Villiers/Kholi-span:

  • Sachin Tendulkar. Foto: (AP Photo/Michael Sohn)

    Sachin Tendulkar:

Die “Klein Meester” het tussen 1989 en 2013 in 463 eendagwedstryde vir Indië gespeel.

Hy het die eerste dubbelhonderdtal in eendagkrieket teen die Proteas geslaan en het uiteindelik 18 426 lopies teen ’n gemiddeld van 44,83 aangeteken.

  • Rohit Sharma:

Die IPL-ster het al 29 honderdtalle in 224 wedstryde geslaan met ’n ongelooflike hoogste telling van 264.

Die 32-jarige slaan sy lopies teen ’n gemiddeld van 49,27 en ’n treftempo van 88,25.

  • Virat Kohli:

Wat Indië se huidige superster só besonders in eendagkrieket maak, is dat hy grenshoue in die “vervelige” middelgedeelte van ’n eendagbeurt kan slaan.

Kohli teken sy amper 12 000 eendaglopies teen ’n gemiddeld van 59,33 aan.

  • AB de Villiers:

Die eerste Suid-Afrikaanse speler in die span. De Villiers spog met verskeie eendagkrieket-rekords agter sy naam: Hy het die vinnigste internasionale honderdtal én 150-tal teen die Wes-Indiese Eilande in 2015 geslaan.

Die voormalige Protea-kaptein se vermoë om van enige aflewering ’n grenshou te slaan, het gesorg dat hy sy 9 577 lopies teen ’n treftempo van 101,09 aangeteken het.

  • Jacques Kallis:

Vir amper 20 jaar was Kallis die rots waarop die Proteas hul kolfbeurte gebou het. Sy medium/vinnige boulwerk het gesorg dat hy die werk van twee spelers kon doen.

Hy het 11 579 lopies aangeteken en 273 paaltjies vir die Proteas geneem.

  • Yuvraj Singh:

In 2007 het Singh op Kingsmead ses agtereenvolgende sesse van Stuart Broad se boulwerk geslaan. Dit was weliswaar in ’n T20-wedstryd, maar die linkshandige veelsydige speler was net so gevaarlik in eendagkrieket.

Hy het meer as 8 000 lopies geslaan en 111 paaltjies geneem.

  • MS Dhoni (kaptein):

Met sy warrelwind-helikopterhoue het Dhoni talle eendagwedstryde vir Indië in die doodsnikke van die wedstryd gewen.

Hy was die kaptein aan die stuur van sake toe die Indiërs in 2011 die Wêreldbeker-toernooi gewen het.

  • Yuzvendra Chahal:

In die afgelope eendagreeks tussen die Proteas en Indië het Chahal die Suid-Afrikaners dronk gedraai.

Die 29-jarige draaier het in 42 wedstryde al 55 paaltjies teen ’n gemiddeld van 24,34 geneem.

  • Dale Steyn:

Dale Steyn. Argieffoto.

Steyn is onlangs deur Cricinfo aangewys as die bouler wat die grootste invloed op T20-wedstryde die afgelope jaar gehad het.

Hoewel hy baie meer sukses in die toetsarena gesmaak het, het Steyn steeds 196 paaltjies in slegs 125 eendagwedstryde teen ’n treftempo van 31,9 geneem.

  • Jasprit Bumrah:

Met sy kort aanloop en sweepslag-boulaksie kan Bumrah blitsige streepballe afstuur; ’n vaardigheid wat van hom ’n gevaarlike bouler in eendagkrieket maak.

Hy neem ’n paaltjie met elke 32 aflewerings wat hy afstuur.

  • Kagiso Rabada:

Rabada het ’n driekuns in sy eendagdebuut vir die Proteas teen Bangladesj geneem en hy is die spilpunt waarom die hedendaagse Protea-boulaanval draai.

Hy het 117 paaltjies in 75 wedstryde laat kantel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan David ·

Het Kallis 273 lopies vir die Proteas geneem????????????????????? Julle bedoel seker paaltjies Maroela????

Christel Cornelissen ·

Dagsê Johan David
Baie dankie vir jou boodskap. Maroela Media vra om verskoning vir die fout en het dit reeds reggestel.
Groetnis
Christel nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.