Die verwoestende T20-kolwer AB de Villiers sal nie in die komende Australiese Big Bash League (BBL) vir Brisbane Heat speel nie.
Die 36-jarige Suid-Afrikaner en sy vrou, Danielle, verwag hul derde kind. Hy het egter nie die moontlikheid van ’n Heat-terugkeer in die toekoms uitgesluit nie.
“Ons jongste kind word binnekort gebore en met ’n groeiende jong gesin, sowel as die onsekerheid rondom die Covid-19-reisregulasies, het ek die moeilike besluit gemaak om nie vanjaar deel van die aksie te wees nie,” het De Villiers in ’n verklaring gesê.
Die talentvolle kolwer was nie verlede seisoen op sy skerpste vir die Brisbane-span nie: In ses wedstryde het hy 146 lopies teen ’n gemiddeld van 24,33 geslaan. Hy is egter aan die brand in vanjaar se Indiese Premierliga waar hy reeds 324 lopies teen ’n gemiddeld van 54 en ’n treftempo van 174,19 gemoker het.
“Dit was wonderlik om verlede seisoen vir die Heat te speel en ek sal beslis in die toekoms weer vir hulle in aksie wil wees,” het hy bygevoeg.
Darren Lehmann, die Heat se veglustige afrigter, het op sy beurt vir De Villiers sterkte toegewens.
“Ons is natuurlik baie bly daaroor en ons weet dat die volgende paar maande baie spesiaal vir almal gaan wees. Ons sal egter in kontak met mekaar bly en sien hoe dinge verloop.
“AB lewer skitterspel vir die Royal Challengers Bangalore en hy is ongetwyfeld iemand wat ons graag in ons span wil hê,” het Lehmann gesê.