AB gaan sy gholfstokke swaai

As AB de Villiers ’n reuseses met net een hand op die krieketveld kan slaan, behoort hy heel goed op die afslaanbof te vertoon. Foto: Cricinfo.

AB de Villiers het ’n uitnodiging aanvaar om in die Sonskynreeks se Origins of Golf-toernooi by die Sishen Gholfklub te speel. Die wêreldbekende krieketspeler sal saam met sy jare lange vriend, Chris Swanepoel, afslaan.

Swanepoel, ’n professionele speler op die toer, is een van De Villiers se beste vriende en saam met Johan Scheepers en Stoffel de Beer is hulle ’n gedugte vriendegroep vanuit Warmbad.

“Ons het almal saam in Warmbad (Bela-Bela) grootgeword en ons pa’s was ook vriende – hulle het lekker saam gholf gespeel,” het Swanepoel gesê.

“Ons drie se pa’s is almal boere, terwyl AB se pa die plaaslike dokter is – en almal ken mos die dokter op die dorp. Die dorp het ’n lekker klein negeputjie-gholfbaan gehad waarop ons pa’s altyd gespeel het en ons jongspan ons streke uitgehaal het. Ons vier is al vriende vir so lank as wat ons kan onthou.”

Nóg ’n ding wat Swanepoel onthou, is dat almal probeer het om vir De Villiers op die sportveld te klop.

“Selfs van ’n jong ouderdom was AB net ’n natuurfrats op die sportveld. Hy het byvoorbeeld nooit swem geoefen nie, maar net in die swembad geklim en ons almal ’n les of twee geleer. Hy was ’n ongelooflike atleet, krieket-, tennis- en rugbyspeler; en al wat ons wou doen, is om hom te wen.”

Swanepoel is deesdae ’n professionele gholfspeler met vier Sonskyn-titels agter sy naam, maar hy onthou die dae toe hy gesukkel het om De Villiers op die gholfbaan te klop.

“Hy was waarskynlik ’n beter gholfspeler as ek tot graad 10. Ek het heeltyd probeer om hom te wen, maar hy het later meer op krieket begin konsentreer.”

Hoewel hul paadjies in die hoërskool geskei het, het hul vriendskap so sterk soos altyd gebly.

“Gelukkig het ons vriendskap net sterker geword en selfs ons kinders is nou al maats. Oor die algemeen kan jy nie vir ’n beter vriend as AB vra nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae