AB groet IPL weer bekerloos

AB de Villiers laat waai met nog ’n ses. Foto: Twitter.

Vanjaar se Indiese Premierliga-wedstryde is agter geslote deure in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel, maar danksy luidsprekers het die opgewonde krete van “ABD, ABD!” steeds deur die leë stadions weerklink.

Die 36-jarige voormalige Protea-kaptein het Vrydagaand weer eens die beste met die kolf vir sy Royal Challengers Bangalore-span teen die Sunrisers Hyderabad gevaar.

Op ’n moeilike blad het hy 56 lopies van 43 aflewerings geslaan, maar die Sunrisers het egter steeds die wedstryd met ses paaltjies gewen om RCB uit te skakel.

Maar kom ons wees eerlik: Sonder De Villiers sou die Bangalore-span in baie meer wedstryde gehênsop het.

Hy het 454 lopies – weliswaar ʼn bietjie minder as Virat Kohli en Devdutt Padikkal – aangeteken maar hy het sy lopies teen ’n verstommende treftempo van 158,74 geslaan. Hy het in die proses 23 sesse oor die grenstou gestuur en ’n wedstryd of twee in druksituasies vir sy span gewen.

Tog maak een swaeltjie – selfs al beskik hy oor emmersvol kolftalent – nie die IPL-somer nie en RCB het laterhand hopeloos te veel op De Villiers se flitsende kolf staatgemaak om hulle uit ’n krisissituasie te slaan.

Trouens, as jy De Villliers, Kohli en Padikkal se bydraes miskyk, het die res van RCB se spelers (al 14 van hulle) net 765 lopies in die hele toernooi aangeteken.

In vandag se wedstryd kry Anrich Nortjé en Kagiso Rabada se Delhi Capitals vir oulaas die geleentheid om vir Dinsdag se eindstryd teen die Mumbai Indians te kwalifiseer.

Dit gaan egter geen maklike taak wees nie want hulle sal die Sunrisers moet tem – ’n span wat vol selfvertroue is ná Vrydagaand se heldedade.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Dankie tog AB hulle is uit.

JohanR

Miskien het hy net vergeet om die knieg te buig voor die toernooi begin het. Jy moet die knieg buig vir grooter sukses!

Mad Mike die Rhodesiër

Hierdie man is soos ‘n flikkerlig: een wedstryd fantastiese telling, een wedstryd uit vroeg. Vertel my meer van Ray Jennings en Hansie Cronje – hulle was 10/10 spelers, AB is ‘n 5/10 speler.