AB plaas die Proteas in beheer

Ab de Villiers in aksie. Foto: Peter Heeger/ANA

Suid-Afrika is op die derde dag van die tweede toets in Port Elizabeth vir 382 lopies uitgehaal danksy AB de Villiers se 126 lopies nie uit nie (20 x 4 en 1 x 6). Dit was De Villiers se eerste toetshonderdtal in meer as drie jaar.

Dit het aan Suid-Afrika ʼn voorsprong van 139 lopies op die eerste beurt gegee. In die oggendskof het die Proteas 119 lopies by hul oornag voorsprong van 20 lopies gevoeg. Philander (36) en Maharaj (30) het stewige bydraes saam met de Villiers op dag drie gelewer. Cummins het 3/79 geneem in 24 boulbeurte.

Ná middagete het Australië vier paaltjies in hul tweede beurt verloor voordat hulle aan ʼn voorsprong kon begin werk. Bancroft (24), Warner (13), S Marsh (1) en Smith (11) was almal terug in die kleedkamer met die totaal op 86 lopies. Rabada het twee van die paaltjies geneem. Khawaja en S Marsh het ʼn voorsprong van 34 lopies opgebou voordat Khawaja been voor paaltjie betrap is deur Rabada vir 75 lopies met die Aussies se totaal op 173/5.

Teen uitskeityd was Australië met hul rug teen die muur op 180/5 wat aan hulle ʼn skrale voorsprong van 41 lopies gee met vyf paaltjies staande. M Marsh (39) en Paine (5) sal Maandag voortkolf.

Dit wil voorkom of die kolfblad nie te veel tierlantyntjies op die laaste twee dae gaan uithaal nie. Suid-Afrika sal egter nie veel meer as 150 lopies vir ʼn oorwinning wil aanteken nie.

Dag vier is geskeduleer om Maandag om 10:00 op St. George’s Park in Port Elizabeth te begin. 

Kagiso Rabada kan moontlik geskors word wat beteken dat hy nie in die oorblywende twee toetse sal speel nie. Sy skouerstamp op dag een teen Steve Smith, nadat hy die Australië-kaptein uitgehaal het, het gelei tot ʼn vlak twee oortreding van die gedragskodes. Rabada sal verhoor word wat sal bepaal of hy weer in die huidige reeks in aksie sal wees.

Klik hier vir meer inligting: http://www.espncricinfo.com/series/10908/game/1075983/south-africa-vs-australia-2nd-test-aus-tour-of-sa-2017-18/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Na ‘n baie swak seisoen deur die Proteas begin dit lyk of van die nuwe manne begin deurkom. Dit lyk egter of ons nie meer op ons ou manne kan staatmaak nie. AB lyk of hy nog kan, maar kan ons nog vir Faf bekostig?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.