AB, Quinton en Janneman binnekort weer in aksie

AB de Villiers. Argieffoto.

’n Splinternuwe formaat kan die perfekte doepa vir uitgehongerde plaaslike krieketgeesdriftiges wees.

3TeamCricket begin amptelik op 27 Junie en sterre soos AB de Villiers, Janneman Malan, Quinton de Kock en Faf du Plessis sal hul krieketvernuf op SuperSportpark uitstal. Hoewel die kragmetings agter geslote deure gespeel sal word, sal dit regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Van die innoverende idees van dié agt-spelers-per-span-wedstryde is onder andere dat ’n kragmeting uit 36 boulbeurte bestaan en dat elke span dan vir 12 boulbeurte elk kolf.

Net soos in gewone krieket is die span wat die meeste lopies aanteken die uiteindelike wenner. O ja, wanneer die sewende paaltjie geval het, sal die oorblywende kolwer op sy eie voortkolf.

Foto: Twitter.

“Dit is ’n goeie idee en Krieket Suid-Afrika (KSA) in samewerking met ander belanghebbendes verdien lof vir die wyse waarop hulle hierdie innoverende manier van speel op die been gebring het,” het De Villiers gesê.

KSA se direkteur van krieket, Graeme Smith, is ook opgewonde oor die jongste verwikkelinge.

“Ek weet dat die spelers jeuk om weer te speel. Dit is ’n opwindende nuwe formaat en ons is trots om saam met 3TeamCricket die projek aan te pak.”

  • Die verskillende spanne:

Eagles: AB de Villiers (kaptein), Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Andile Phehlukwayo, Sisanda Magala, Junior Dala en Lungi Ngidi.

Kites: Quinton de Kock (kaptein), Temba Bavuma, Jon-Jon Smuts, David Miller, Dwaine Pretorius, Lutho Sipamla, Beuran Hendricks en Anrich Nortjé.

Kingfishers: Kagiso Rabada (kaptein), Reeza Hendricks, Janneman Malan, Faf du Plessis, Heinrich Klaasen, Chris Morris, Glenton Stuurman en Tabraiz Shamsi.

  • Intussen het KSA die versekering gegee dat die onafhanklike ondersoek na beweerde wangedrag deur sy geskorste uitvoerende hoof Thabang Moroe teen die einde van die week afgehandel behoort te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.