AB, RCB weer bekerloos

AB de Villiers. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

AB de Villiers kon toe nie vanjaar soos MS Dhoni ’n haas uit die hoed pluk om ’n uitklopwedstryd vir die Royal Challengers Bangalore (RCB) te wen nie.

Of eintlik het die geleentheid hom voorgedoen, maar – om ’n geykte sportuitdrukking te gebruik – hy het dit net nie met albei hande aangegryp nie.

Daar was nog meer as sewe boulbeurte oor in RCB se kolfbeurt toe De Villiers by Glenn Maxwell voor die paaltjies aangesluit het. Vir ’n kolwer wat destyds ’n honderdtal van slegs 31 aflewerings gemoker het, is 42 balle meer as genoeg om sy span op die voorvoet te plaas.

Maar die voormalige Protea-kaptein sukkel met die wilgerlat sedert die toernooi in die Verenigde Arabiese Emirate hervat is en die Kolkata Knight Riders se briljante Sunil Narine (4/21) het hom vir 11 skoongeboul.

Maxwell is ook kort daarna uitgehaal en RCB kon slegs 138/7 in hul toegelate 20 boulbeurte aanteken.

Ja, daar was ’n paar benoude oomblikke in hul lopiejaagtog, maar die Knight Riders het die wenlopies met vier paaltjies staande geslaan.

Dit was ook Virat Kholi se laaste wedstryd as kaptein van die RCB.

“Ek het my beste vir die span as kaptein gegee en ek beloof om dieselfde ook as ’n speler te doen. Ja, ek sal in die toekoms nog beslis vir Bangalore speel; lojaliteit en toewyding jeens ’n span is vir my baie belangrik,” het die veglustige Kholi gesê.

Die Knight Riders speel nou môre teen die Delhi Capitals om te bepaal wie teen die Chennai Super Kings in die eindstryd speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.