AB saam met Labuschagne in Big Bash

AB de Villiers sal vir die Brisbane Heat in die Big Bash League speel. Foto: Facebook.

Twee van die opwindendste krieketspelers op die wêreldverhoog kan saam in aksie wees wanneer die Big Bash League volgende week in Australië begin. AB de Villiers en Marnus Labuschagne sal vir die Brisbane Heat in Australië se mik-en-moker-reeks speel.

Die 35-jarige De Villiers is een van krieket se supersterre, terwyl Labuschagne – die voormalige Klerksdorper – Australië se nuwe kolfheld is.

In sy Protea-dae was De Villiers ’n verwoestende kolwer in witbalkrieket. Hy hou die rekord vir die vinnigste honderdtal in eendagkrieket, nadat hy Wes-Indië in 2015 aan’t flarde op die Wanderers geslaan het.

De Villiers het sy honderdtal van slegs 31 balle gemoker.

Sedert sy uittrede is hy ’n wêreldreisiger en een van die Bangalore Royal Challengers se beste spelers in die Indiese Premierliga, terwyl hy ook T20-krieket in Pakistan en Engeland gespeel het.

Op tuisbodem het hy tans 247 lopies teen ’n treftempo van 153,41 vir die Tshwane Spartans in die Mzansi Superliga geslaan.

Op sy beurt het Labuschagne meteens in Australië se nuwe kolfheld ontpop sedert hy as harsingskudding-plaasvervanger vir Steve Smith in die Reeks om die As teen Engeland opgestuur is.

Marnus Labuschagne. Foto: Facebook.

In 11 toetse het hy 910 lopies teen ’n gemiddeld van 53,52 geslaan.

Of die twee op dieselfde tyd in die span gaan wees, is egter ’n ope vraag.

De Villiers meld eers in Januarie 2020 by die span aan, terwyl Labuschagne dan waarskynlik in Australië se span vir die laaste toets teen Nieu-Seeland sal wees.

Die Aussies toer daarna na Indië, waar hulle in drie eendagwedstryde sake sal uitspook..

Die 25-jarige Labuschagne is nog nie ’n gereelde gesig in Australië se eendagspan nie en kan moontlik vir die Heat beskikbaar wees.

  • Die Heat speel sy eerste wedstryd teen die Sydney Thunder volgende Dinsdag op die Gabba.

Brisbane Heat-groep: Chris Lynn, Tom Banton, AB de Villiers, Mujeeb Ur Rahman, Zaheer Khan, Ben Laughlin, James Patinson, Max Bryant, Joe Burns, Ben Cutting, Sam Heazlett, Matt Renshaw, Josh Lalor, Mitch Swepson, Jack Prestwidge, Mark Steketee, Jimmy Peirson, Marnus Labuschagne, Matt Kuhnemann, Cameron Gannon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico van Vuuren ·

Solank AB die spul Ausies kan leer om Labuschagne uit te spreek is dit ‘n “job well done”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.