AB sal nie weer vir Proteas kolf

Foto: Rodger Bosch/AFP.

Dit is amptelik: AB de Villiers se internasionale loopbaan is iets van die verlede nadat daar tot onlangs nog sprake was dat hy deel van die Proteas se T20-Wêreldbekerplanne was.

Die nasionale keurders het gister hul groep vir die toer na die Wes-Indiese Eilande bekendgemaak en die voormalige Protea-kaptein se naam is nie onder die uitgelese geselskap nie.

Mark Boucher, die Suid-Afrikaanse afrigter, het in ’n onderhoud met The Citizen gesê dat hy De Villiers se besluit respekteer.

“Hy is ongelukkig nie meer in die prentjie nie. Ek sê ongelukkig want ek dink ons stem almal saam dat hy nog een van die beste – of selfs dié beste – T20-spelers ter wêreld is.”

Om as die “beste ter wêreld” bestempel te word, is dikwels ’n moeilike aflewering om te trotseer, maar De Villiers sal (selfs op 37-jarige ouderdom) ’n manier vind om daardie etiket-om-die-nek-aflewering ook na die grens te stuur.

In ses wedstryde in vanjaar se Indiese Premierliga het hy 207 lopies teen ’n gemiddeld van 51,75 en ’n treftempo van 164,28 vir die Royal Challengers Bangalore gemoker.

Teen die Kolkata Knight Riders het hy veral vir Andre Russell wild en wakker geslaan en twee Australiese krieketliefhebbers het met ’n juweel op hul YouTube-kanaal vorendag gekom toe hulle die wedstryd ontleed het.

“As jy ’n bouler moet kies om die wedstryd in die laaste boulbeurt vir jou te wen, is Russell ongetwyfeld die beste kandidaat,” het hulle heel ernstig gesê.

“Behalwe natuurlik as AB de Villiers die kolwer is.”

AB de Villiers het verlede jaar ’n reuseses met net een hand vir die Royal Challengers Bangalore geslaan. Foto: Twitter.

Dit is juis die Suid-Afrikaner se ongekende vermoë om kalm in druksituasies te bly, om sesse met net een hand te slaan en om selfs die gevaarlikste snelbouler se vinnigste aflewerings met gemak te trotseer wat van hom ’n internasionale superster maak.

Wie sal ooit die Wanderers-toets teen Australië in 2014 vergeet toe Mitchell Johnson die Suid-Afrikaanse kolwers verrinneweer het om 12 paaltjies in die wedstryd te neem?

’n Mens sou nie die meeste ander internasionale kolwers kwalik geneem het nie as hulle bereid was om hul plek in die span vir ’n pot lensiesop te verruil, eerder as om vir Johnson te trotseer wanneer hy in só ’n verwoestende bui is.

Maar De Villiers het in daardie einste Wanderers-wedstryd vir die Aussie-blits met minagting op die voorvoet na die grens gedryf.

Ravi Shastri, Indië se nasionale breier, het verlede jaar tereg gesê dat sy moontlike Protea-terugkeer goed vir die sport sal wees. Internasionale krieket het ’n speler van sy kaliber nodig.

Maar helaas, dit is nie vir krieketondersteuners wêreldwyd beskore nie.

By die T20-Wêreldbeker sou ’n Protea-kolflys met AB de Villiers se naam daarop baie indrukwekkender gelyk het as een daarsonder.

Ja, een swaeltjie maak nie ’n somer nie. Behalwe as daardie swaeltjie 75 lopies van 41 balle kan slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frank ·

Ja, die keurders petalje destyds in NZ was vir hom die finale strooi, glo ek.

Anoniem ·

Ek glo nie AB dink hy is groter as die spel nie, ek dink nie hy wil weer in ‘n SA krieket omgewing speel waar soveel politiekery betrokke is nie. Verder het AB in ‘n ander berig gesê dat dit onregverdig sal wees om vir hom plek te moet maak, terwyl ‘n ander kolwer wat die afgelope paar jaar betrokke was by die Proteas, sou uitmis. Dit dui op nederigheid.

Jack Russ1 ·

Dieselfde AB wat kies en keur in watter reekse hy sy land wil verteenwoordig en watter nie. Dan tree ons af en begin dan weer speel net om 2 jaar voor die wereldbeker weer af te tree en dan net voor die wereldbeker homself weer beskikbaar maak

Tubac ·

Sover my kennis strek was hy genader deur n prominente persoon . Gun hom sy keuse. Ek lees hier suurdruiwe.

Kirst ·

Abraham het geld gekies. Hy speel eerder in ligas wat baie betaal soos die IPL en Big Bash League as vir die Pro(bleem)teas. Dis jammer aan die een kant want hy speel nog goed. Aan die ander kant moet hy plek maak vir jonger spelers. Hy het in elk geval sy kant gebring vir SA krieket.

Hein ·

Wie sou nie geld kies nie? Dalk vroeer jare was dit ‘n ander storie maar deesdae moet hulle sekere hoeveelheid spelers van kleur in die span he. Hulle noem dit Quotas ek noem dit iets anders.

Kirst ·

Ek bedoel nie hy moes nie geld gekies het nie. Sy speel dae is beperk en hy het ‘n gesin om voor te sorg. Ek glo nie hy is bekommerd oor kwotas nie, hy is AB de Villiers. Dalk wil hy nie meer vir SA speel nie omdat:
1. Hy nie die geld nodig het nie en nie onndig beseer wil raak nie
2. Hy eerder jonger spelers sal kans gee
Mens kan net raai. Die keuse om eerder toernooie te speel wat goed betaal is voor die hand liggend.

Tubac ·

Ek sou ook geld gekies het met die toestand waarin KSA was, en nog steeds is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.