AB slaan eerste Big Bash-aflewering vir ’n vier

AB de Villiers het sy eerste Big Bash-aflewering vir ’n vier na die grens gedryf. Foto: Twitter.

Afganistan se Rashid Khan is ’n uitgeslape kalant. Hy het pas vir Max Bryant met een van sy goëlballe skoongeboul en die tafel is vir ’n interessante krieketwedstryd gedek.

Hoewel die Adelaide Strikers vir net 110 lopies in hul Big Bash League-wedstryd teen die Brisbane Heat uitgeknikker is, is die Heat effens in die knyp met hul telling op 11/2 in die tweede boulbeurt.

Vreemde dinge het al met lopiejaagtogte in Australië gebeur – onthou julle nog toe die Proteas 117 lopies suksesvol teen Allan Border-hulle in Sydney verdedig het?

Boonop het Khan die bal in die hand en T20-kolwers van reg oor die wêreld sukkel om sy aflewerings te lees. Maar die Heat het ’n troefkaart: AB de Villiers.

Die Suid-Afrikaanse superster het vandag sy Big Bash-buiging vir die Heat gemaak en die Australiese pers het baie van die 35-jarige De Villiers verwag.

En hy het nie teleurgestel nie.

Waar ander kolwers dalk eers aan die toestande gewoond sal wil raak, het De Villiers terstond sy eerste aflewering na die grens gedryf.

Skaars 32 aflewerings later was die wedstryd buite die Strikers se bereik. Die Suid-Afrikaner het vyf grenshoue in sy beurt van 40 geslaan en nooit gelyk of hy enige ongemak verduur nie.

Hy het goed met Matt Renshaw (52) gekombineer en die Heat het die wenlopies met 28 balle oor geslaan.

“Ek dink ek speel van die beste krieket van my lewe,” het De Villiers vroeër aan die Aussie-pers gesê. “Ek het dit al baie kere vantevore gesê, maar dit maak nie saak of ek nou in die Wêreldbeker-halfeindstryd of in ’n klubkrieketwedstryd speel nie, die senuwees sal altyd knaag.

“Ek plaas myself altyd onder druk om te presteer en na die beste van my vermoë te speel. Eintlik verwelkom ek die vlinders in my maag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.