AB sukkel, maar ster skyn steeds

AB de Villiers. Foto: Manjunath Kiran/AFP.

0, 12, 11, 4* en 23.

Dít is hoe AB de Villiers se kolfvertoning lyk sedert die Indiese Premierliga in die Verenigde Arabiese Emirate hervat is.

Sy algehele rekord by vanjaar se toernooi sorg welisweer steeds vir goeie leesstof, maar dit is grotendeels te danke aan sy Indiese heldedade vroeër vanjaar.

Die voormalige Protea-kaptein het toe 207 lopies teen ’n gemiddeld van 51,75 vir die Royal Challengers Bangalore geslaan voordat Covid-19 die toernooi in die wiele gery het.

’n Speler van De Villiers se kaliber kan beslis nie tevrede wees met sy onlangse vertonings nie en hy sal oorgehaal wees om met iets spesiaals in RCB se oorblywende wedstryde vorendag te kom.

Terselfdertyd het ’n oudspeler soos Kevin Pietersen begrip vir die situasie waarin De Villiers homself bevind.

“Hy is ’n ervare speler wat nie daarvan sal hou as kolwers soos Virat Kohli en Glenn Maxwell al die lopies slaan nie,” het Pietersen gesê.

Tog meen Pietersen dat De Villiers se ster nog helder vir die Bangalore-span skyn; iets waarvoor hy sy heldedade in die verlede kan bedank.

“Hy is ’n ongelooflike speler en hy sal brand om weer ’n noemenswaardige bydrae te lewer. Maar ek dink nie eens dit sal saak maak as hy vir drie agtereenvolgende nulletjies uitgehaal word nie; sy getuigskrif is net te indrukwekkend.”

Die 37-jarige kolwer het reeds 5 106 lopies en 249 sesse in sy IPL-loopbaan gemoker, terwyl hy as die beste kolwer in die reeks se geskiedenis aangewys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.