AB tree in bres vir sukkelende Virat

AB de Villiers en Virat Kohli. Foto: Twitter.

Dit gaan tans klaarblyklik nie te goed met Virat Kohli in die Indiese Premierliga nie.

Ná tien wedstryde kon Kohli net 186 lopies teen ’n gemiddeld van 20,66 in vanjaar se reeks bymekaarskraap.

Trek sy onlangse beurt van 58 teen die Gujarat Lions af en sy gemiddeld is skielik ’n skamele 14,2.

Die 33-jarige voormalige Indiese kaptein is onder meer deur Marco Jansen vir ’n nulletjie uitgeknikker terwyl hy baie lanklaas ’n honderdtal kon aanteken.

Nou het De Villiers vir sy krieketvriend in die bres getree: ’n Uitstekende kolwer word immers nie net skielik ’n swak speler nie.

Terselfdertyd beskik Kohli oor ’n lekker getuigskrif om op terug te val wanneer dinge nie volgens plan verloop nie – in 2016 het hy byvoorbeeld 973 lopies in die IPL teen ’n gemiddeld van meer as 80 gemoker.

“Die verskil tussen goeie en swak spelpeil is dikwels net een of twee beurte,” het die 38-jarige Suid-Afrikaner in ’n onderhoud met AFP gesê.

Wanneer die grenshoue opdroog en ’n kolwer amper toe oë die pad terug na die kleedkamer kan vind, is geestelike krag van veel groter waarde as ’n goeie dryfhou.

“’n Kolwer word nie oornag ’n swak speler nie. Ek weet dit en Virat weet dit ook; jy moet probeer om alle negatiewe gedagtes opsy te stoot om sodoende elke beurt op ’n skoon bladsy te begin. Dit is egter makliker gesê as gedaan.”

De Villiers het verlede jaar sy uittrede ná ’n skitterende loopbaan aangekondig.

Hy het veral sy stempel op die IPL afgedruk waar hy ’n gedugte kombinasie met die veglustige Kohli gevorm het.

Die gewilde kolwer het 25 keer (’n rekord) die speler van die wedstryd-toekenning ontvang, terwyl hy sy 5 162 lopies teen ’n ongelooflike treftempo van 151,68 in Indië geslaan het.

Kohli was destyds een van die eerste spelers om De Villiers se lof te besing.

“Jy is die beste speler van ons era en die inspirerendste persoon wat ek nog ooit ontmoet het. Jy kan baie trots wees op wat jy bereik het en wat jy vir die Royal Challengers Bangalore gedoen het.”

Die Indiese ster kry môre weer ’n geleentheid om sy sukkelende toernooi op koers te kry wanneer Bangalore teen die Chennai Super Kings speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.