AB, Zoeloe in Wisden se WB-span

AB de Villiers (2015-Krieketwêreldbeker) (Foto: AFP Photo/Peter Parks)

Die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack het onlangs sy beste Wêreldbeker-span ooit (vertoningsgewys) gekies en Suid-Afrika se AB de Villiers en Lance Klusener tel onder die gekose spelers.

Om deur Wisden vereer te word, is selfs meer spesiaal as die keer toe jy onverwags R200 tussen jou wasgoed gekry het.

Hoewel die Proteas nog nooit met die silwerware by ’n Wêreldbeker-toernooi weggestap het nie, het die Suid-Afrikaners al vir ’n paar puik individuele vertonings gesorg.

De Villiers het in sy Wêreldbeker-wedstryde 1 207 lopies teen ’n spoggemiddeld van 63,53 en ’n treftempo van 117,29 geslaan.  Die Wisden-span fokus veral op sy avonture tydens die toernooi van 2015 in Australië en Nieu-Seeland.

Lance Klusener (regs) (5 June 1999) (Foto: John Giles/PA/AFP)

Die Suid-Afrikaanse sterkolwer het onder meer die vinnigste 150-tal in die geskiedenis van eendagkrieket teen die Wes-Indiese Eilande geslaan en hy was goed op dreef in die halfeindstryd teen Nieu-Seeland.

De Villiers het 60 lopies van 38 balle gemoker toe dit begin reën het, hy kon ná die onderbreking nie weer heeltemal aan die gang kom nie en ’n Grant Elliot-ses van Dale Steyn se boulwerk het die wedstryd vir die Kiwi’s beklink.

“Meer as enige ander speler in die geskiedenis is AB de Villiers se verhaal gevul met moontlikhede wat nooit werklikhede geword het nie. Sy verstommende statistiek sorg egter dat hy sy plek in die span bespreek.”

Op sy beurt het Klusener gereeld vir die Proteas in die 1999-toernooi in Engeland gered. Hy het uiteindelik 372 lopies geslaan en 22 paaltjies geneem en Wsden beskryf sy veldtog in daardie toernooi heel tereg as die beste individuele vertoning ooit by die internasionale skouspel.

“Sy gereelde kragtoer-vertonings het vir Suid-Afrika tot amper in die eindstryd gedra. As Allan Donald maar net nie sy kolf laat val het nie.”

  • Wisden se beste Wêreldbeker-span:
  1. Sachin Tendulkar (Indië): 2 278 lopies teen ’n gemiddeld van 56,95
  2. Rohit Sharma (Indië): 978 lopies teen ’n gemiddeld van 65,20
  3. Ricky Ponting (Australië): 1 743 lopies teen ’n gemiddeld van 45,86
  4. Kumar Sangakkara (Sri Lanka) 1 532 lopies teen ’n gemiddeld van 56,74
  5. Viv Richards (Wes-Indiese Eilande) 1 013 lopies teen ’n gemiddeld van 63,31
  6. AB de Villiers (Suid-Afrika) 1 207 lopies teen ’n gemiddeld van 63,53
  7. Lance Klusener (“Zoeloe”) (Suid-Afrika) 372 lopies teen ’n gemiddeld van 124 en 22 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22,13
  8. Wasim Akram (Pakistan) 55 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22,87
  9. Mitchell Starc (Australië) 49 paaltjies teen ’n gemiddeld van 14,81
  10. Glenn McGrath (Australië) 71 paaltjies teen ’n gemiddeld van 18,19
  11. Muttiah Muralitharan (Sri Lanka) 68 paaltjies teen ’n gemiddeld van 19,63

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.