Abbott en Harmer maak amok in Engeland

Kyle Abbott het drie Yorkshire-kolwers terug na die kleedkamer gestuur. Foto: Twitter.

Die County-kampioenskapreeks in Engeland is skaars weer hervat of Kyle Abbott baljaar reeds tussen die paaltjies.

Die 34-jarige snelbouler het in Southampton die eerste drie paaltjies vir Hampshire geneem om met ’n eerstebeurt-boulontleding van 3/47 in 20 boulbeurte teen Yorkshire te spog.

Ja, hulle mag dalk aan die verkeerde kant van 30 wees en hulle het dalk destyds Kolpak-kontrakte met Engelse graafskapspanne onderteken, maar sommige kenners meen Abbott en Simon Harmer kan beslis waarde tot die Proteas se toetsspan voeg.

Die kanse is egter skraal dat een van hulle ooit weer vir die span gekies sal word, maar hulle is ongetwyfeld besig om amok in die graafskapreeks te maak.

Abbott het reeds 46 paaltjies teen ’n spoggerige gemiddeld van 21,65 vir Hampshire geneem, terwyl Harmer kort op sy hakke met sy 42 paaltjies teen 25,14 is.

Die swaaibouler het in 11 toetse vir die Proteas 39 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22,71 geneem, terwyl hy een van Suid-Afrika se sterre tydens die 2015-Wêreldbeker-kriekettoernooi in Australië en Nieu-Seeland was.

Hy was egter destyds in die middel van die Wêreldbeker-storm vasgevang toe politici en administrateurs vóór die aanvang van die halfeindstryd-kragmeting teen Nieu-Seeland vereis het dat Vernon Philander hom in die beginelftal moet vervang.

Daarbenewens het boulers soos Dale Steyn en Morné Morkel ook gereeld in die pad van sy drome om Suid-Afrika te verteenwoordig gestaan en hy het weinig speelkans gekry.

In 2017 het Steyn se beserings die oorhand begin kry en Abbott het in vier agtereenvolgende toetse vir die Proteas gespeel. Hy het egter toe reeds ’n Kolpak-kontrak met Hampshire in Engeland onderteken en sy internasionale loopbaan vir Suid-Afrika was iets van die verlede.

Steyn het sy laaste toets vir die Proteas in 2019 gespeel, maar spelers soos Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Anrich Nortjé sou weer eens dinge vir die 34-jarige Abbott bemoeilik het.

Daarteenoor het Harmer in slegs vyf toetse vir die Proteas gespeel waarin hy 20 paaltjies geneem het. Tog is hy die aanvallendheid vanself en daar skort hoegenaamd niks met sy selfvertroue nie – ’n belangrike karaktereienskap vir ’n draaier.

Die 32-jarige speler draai gereeld die graafskapkolwers dronk en hy is onlangs as een van die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack se spelers van die jaar aangewys.

Keshav Maharaj – die Proteas se eerstekeusedraaier – se eersterangse gemiddeld is egter min of meer dieselfde as Harmer s’n.

Maharaj het in 139 wedstryde 534 paaltjies teen ’n gemiddeld van 27,39 en ’n treftempo van 54,70 geneem, terwyl Harmer 685 paaltjies in 161 kragmetings teen ’n gemiddeld van 27,00 en ’n treftempo van 56,60 geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anniekiewiet ·

Dis wonderlik dat hulle iewers ‘n spanplekkie kry om te speel en daar waardeer word.

Gawie ·

Ek het al gewonder hoekom speel Suid-Afrika, in vergelyking met ander lande, so min toetskrieket? Is dit miskien hoekom ons so swak vaar? En as ons speel dan kies ons nie spelers soos Abbott en Harmer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.