Abbott word Titan vir res van seisoen

Kyle Abbott. Foto: Gianluigi Guercia/AFP.

Kyle Abbott, die voormalige Protea-snelbouler, sal vir die res van die huidige eersterangse seisoen sy krieketskoene in die Titans se kleedkamer aantrek.

Die 33-jarige Abbott het in 11 toetse vir die Proteas 39 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22,71 geneem, terwyl hy een van Suid-Afrika se sterre tydens die 2015 Wêreldbeker-kriekettoernooi in Australië en Nieu-Seeland was.

Hy was egter destyds in die middel van die Wêreldbeker-storm vasgevang toe politici en administrateurs vóór die aanvang van die halfeindstryd-kragmeting teen Nieu-Seeland vereis het dat Vernon Philander hom in die beginelftal moet vervang.

Daarbenewens het boulers soos Dale Steyn en Morné Morkel ook gereeld in die pad van sy drome om Suid-Afrika te verteenwoordig gestaan en hy het weinig speelkans gekry.

In 2017 het Steyn se beserings die oorhand begin kry en Abbott het in vier agtereenvolgende toetse vir die Proteas gespeel. Hy het egter toe reeds ’n Kolpak-kontrak met Hampshire in Engeland onderteken en sy internasionale loopbaan vir Suid-Afrika was iets van die verlede.

Volgens Abbott het die wêreldwye Covid-19-pandemie ’n groot rol gespeel in sy besluit om paaltjies vir die Titans te probeer neem.

“Ek het vir amper 12 maande nie ’n enkele krieketwedstryd gespeel nie en ek het by die huis in Durban gesit. Met die aanbreek van die nuwe jaar het ek besluit om uit my gemaksone te tree en ek sien uit na my tyd by die Titans,” het Abbott gesê.

Hy sal vir die Titans se wedstryde in die Momentum-eendagbeker beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.